BRU: naelbyter-halfeind beloof vuurwarm finale

BOLAND-ama-logo`n Handvol naelbyterstryde, gekenmerk deur aangrypende terugvegpogings, in die halfeindronde van die Bolandse Rugbyunie (BRU) se klubreekse laat ondersteuners die lippe aflek vir die vuurwarm mededinging wat die eindstryde beloof.

Op die koop toe het geeneen van die twee spanne wat die Grootuitdaagbeker eerskomende Saterdag betwis, Hawston en Saldanhabaai, al dié gesogte beker omhoog gehou nie.

Slegs een van die agt kragmetings Saterdag het `n wegholoorwinning opgelewer, die res is met tussen twee en sewe punte gewen.

Majestics van Citrusdal, die enigste van die vier verdedigende kampioene wat die uitspeelronde oorleef het, het 63-11 (rustyd 26-11) in die halfeindstryd om die Gemeenskapskild teen Greyton gewen.

Die Tiere van die Noordweste is vyf jaar gelede gestig en het sedertdien nog elke jaar die skild gewen.

Wat die Grootuitdaagbeker betref, het Hawston 28-26 (rustyd 17-7) teen Robertson gewen; en Saldanhabaai het Young Roses van Wellington 36-33 (rustyd 17-15) geklop.

majesticslogoIn die reeks om die Streekuitdaagbeker het Rawsonville vir die indrukwekkendste terugvegpoging van nie minder nie as vier uit die agt botsings gesorg. Hy het Invincibles van Vredendal 36-31 verslaan nadat die verloorspan rustyd 25-3 voor was. Napier moes  eweneens inhaal dat dit klap om 27-25 te wen nadat Langebaan rustyd 19-12 voor was.

Russell Smith het 20 punte vir Langebaan met ses strafdoele en `n doelskop behaal.

Tandfontein is die ander finalis in die reeks om die Gemeenskapskild nadat hy `n rustydagterstand van 0-8 teen Rangers De Hoop omgekeer het om 29-24 te wen.

Spartans het sy halfeindstryd in die Eerste Liga teen Young Lions 22-18 gewen nadat die Lions rustyd 10-7 voor was; en die kragmeting tussen Excelcior en Young Turbos, wat rustyd 5-5 gelykop was, is uiteindelik 22-15 deur Excelsior gewen.

Die puntemakers –

Grootuitdaagbeker (halfeindronde)

Hawston 28 (17) – Drieë: Chad Kleinsmidt, Neil Coetzee, Cameron Plaatjies. Doelskoppe: Bradley Brown (2). Strafdoele: Brown (3).

Robertson 26 (7) – Drieë: Lorenzo Baardman, Johan Stefanus, Nicklaas Luckas, Senan van der Merwe.
Doelskoppe: Adriaano Conradie (3).

Saldanhabaai 33 (17) – Drieë: Weslie Adams, Ludio Williams, Tiaan van Wyk. Charlton Vraagom. Doelskoppe: Chesswin Williams (2). Strafdoele: C Williams, Vraagom. Skepdoel: Vraagom.

Roses United 30 (15) – Drieë: Zane Fortuin, Kelvin Fikster, Larnelle Maralack, Rowan Ranna. Doelskoppe: Johnwen Lewis (2). Strafdoele: Lewis (2)

Streekuitdaagbeker (halfeindronde)

Napier 27 (12) – Drieë: Phillip Swart, Dean Swart (2). Doelskoppe: Amir Visser (2), Taswill Olivier. Strafdoele: Visser, Gavin Smith.

Langebaan 25 (19) – Drieë: Selamain Ocks. Doelskop: Russel Smith. Strafdoele: Russel Smith (6).

Rawsonville 36 (3) – Drieë: Selvino Antonie, Steve Smith, André Stevens, Fanie de Vries, Franco Magerman. Doelskoppe: Cameron van der Wygen (3), Antonie. Strafdoel: Van der Wygen.

Invincibles 31 (25) – Drieë: Jose Williams, Clinton Isaacs, Jerigo Thomas. Doelskoppe: Ashley Isaacs (2).
Strafdoele: A Isaacs (2), Werner Syster (2).

Eindstryddag

♦ Die eindstryde Saterdag in die Bolandstadion op Wellington begin 11:00, die hekke open 09:30, en toegang kos R20 per kop en R10 vir leerlinge onder 12.

Soos gebruiklik sal die strate om die stadion gesluit wees, met openbare parkering beskikbaar by Huis Murray (oorkant die B-veld) teen R20 per voertuig.

Die program –

Eerste Liga

11:00 – Spartans teen Excelcior

Gemeenskapskild

12:45 – Tandfontein teen Majestics

Streekuitdaagbeker

14:30 – Napier teen Rawsonville

Grootuitdaagbeker

16:15 – Hawston teen Saldanhabaai

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.