Brumbies doen Lions ʼn groot guns

Die Lions se pad na ʼn tuishalfeind is nou ten volle in hulle eie hande.

Die Brumbies het Saterdag met 40-31 teen die Waratahs gewen en die Lions sal nou in die tweede plek van die afdelingswenners inskuif mits hulle die Bulls Saterdagmiddag op Ellispark klop.

Dan sal net die Crusaders bo hulle op die puntelys wees en sal die Lions, ná aanstaande week se kwarteindwedstryd, ook tuis in die halfeind speel ‒ mits hulle natuurlik in die kwarteindronde wen.

Heel ironies sal die Lions se kwarteindstryd soos sake nou staan teen die Jaguares wees wat Saterdag self, in die laaste wedstryd van die Superreeks, die Lions as tweede beste span kan vervang as hulle die Sharks in Durban kan klop.

Dan verander die uitspeel-teenstanders nogmaals!

Die Brumbies, wat bra wisselvallig in die reeks was, het die Waratahs oortuigend in Sydney geklop nadat hulle rustyd met  26-10 voor was en het ses drieë teen vier gedruk.

♦ Vroeër Saterdag het die Blues ʼn ruk lank goeie teenstand gebied, maar toe het die Crusaders op hul tuisveld losgetrek en ʼn ondubbelsinnige waarskuwing aan hul uitspeelteenstanders gerig: Ons is nou weer op ons beste.

Crusaders het met 54-17 gewen nadat hulle rustyd met 19-7 voor was.

Die Saders het agt goeie drieë teen drie gedruk in ʼn wedstryd waar albei spanne hardlooprugby probeer speel het, maar waar die Blues se verdediging kort voor rustyd begin ingee het.

Die Sharks sal vir hulle wedstryd om 17:05 teen die Jaguares amper in ʼn interne tweestryd gewikkel wees. Hulle wil in die uitspeelronde wees en moet die Jaguares klop om dit te bereik. Maar dan moet hulle Christchurch toe vir die kwarteindwedstryd!

Puntemakers in die bostaande twee wedstryde ‒

♦ Waratahs teen Brumbies
Waratahs (10) 31:
Drieë: Damien Fitzpatrick, Taqele Naiyaravoro, Will Miller, Brad Wilkin. Doelskoppe: Bernard Foley (4). Strafdoel: Foley.
Brumbies (26) 40: Drieë: Tom Banks, Rory Arnold, Isi Naisarani, Andy Muirhead, Kyle Godwin, Lausi’i Taliauli. Doelskoppe: Christian Leali’ifano (5).

♦ Crusaders teen Blues
Crusaders (19) 54:
Drieë: Jack Goodhue (2), George Bridge (3), Seta Tamanivalu, Sam Whitelock, Bryn Hall. Doelskoppe: Richie Mo’unga (4), Mitchell Hunt (3).
Blues (5) 17: Drieë: Melani Nanai (2), strafdrie (7 punte).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.