Brumbies strompel met neerlaag voort na hul kwarteind

Die Supersirkus het Vrydag sy gewone gang gegaan toe die wenner van die Australiese groep, die Brumbies, sy wedstryd teen die Reds verloor het maar steeds verseker is van sy tuiskwarteind.

Agt neerlae in hulle 14 wedstryde tot dusver en ʼn totaal van slegs 34 ligapunte is tans die Brumbies se treurige rekord wat ʼn batige punteverskil van net 54 insluit.

Die Reds het die so-so wedstryd op sy tuisveld met 16-15 gewen danksy Quade Cooper se strafdoel net voor die einde.

Soos dinge nou staan, sal die Brumbies teen die Hurricanes met hulle (tans) 11 oorwinnings in 14 wedstryde en 54 ligapunte moet speel. En soos hierdie konkoksie van ʼn kompetisie werk, sal die Brumbies die tuisveldvoordeel hê!

♦  Terwyl die Rebels steeds veg om nie die Australiese span te wees wat uit die Superreeks gesit word nie, het hulle gister met 22-31 teen die Western Force verloor.

Die Force, wat glo die ander span is wat gevaar loop om sy status te verloor, het nou vyf van sy huidige 14 wedstryde gewen en is tweede op die Australiese punteleer, al is dit met ʼn skamele 21 ligapunte. Die Rebels daarenteen het net een keer gewen, het slegs agt ligapunte en ʼn negatiewe punteverskil van 330.

Dit is een ligapunt meer as die Sunwolves wat tot dusver een uit 13 gewen het en 336 punte meer afgestaan het as wat hulle aangeteken het.

Agge nee, die Super15 moet nou kom … selfs met die Sunwolves steeds daar. Die huidige spul is ʼn belediging vir mense wat vir die spel omgee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.