Brumbies verras teen sukkelende Hurricanes

Die Hurricanes gaan nie met súlke rugby die Superreeks wen nie.

Hulle is Saterdag in Canberra met 24-12 deur die Brumbies geklop wat die oorwinning terdeë verdien het. Tog sal die Hurricanes, ongeag wat die Lions later in die dag teen die Sharks doen, Sondagoggend steeds tweede op die algehele punteleer wees.

Dit was een van dáárdie rugbydae wat alle spanne van tyd tot tyd oorkom. Die Brumbies het die Hurricanes plek-plek teruggeskrum, die losskrums oorheers, beter verdedig en hul geleenthede aangegryp. Hul dissipline was ook beter.

Die rustydtelling was 12-5 in die verloorspan se guns, maar hulle kon nie in die tweede helfte enige punte aanteken nie terwyl die Brumbies drie keer gaan druk het.

Aan die Hurricanes se kant was daar hoeveel geleenthede op die aanval waar verkeerde opsies en swak hanteerwerk hul besit omgekeer en die tuisspan kans gegee het om weer uit die moeilikheid en op die aanval te kom.

Dat die Hurricanes, wat voor die wedstryd net drie van hul 13 wedstryde verloor het, só gesukkel het teen ʼn span wat agt keer in hul eerste 13 wedstryde slae gekry het, vertel van die Nieu-Seelanders se lamlendige vertoning.

Puntemakers ‒

Brumbies (5) 24: Drieë: Kyle Godwin, Folau Fainga’a, Rory Arnold, Andy Muirhead. Doelskoppe: Christian Lealiifano, Matt Lucas.
Hurricanes (12) 12: Drieë: TJ Perenara, Julian Savea. Doelskop: Jordie Barrett.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.