Bryan Habana, een van SA rugby se heel grootstes

Bryan Habana – hy het sedert sy jong dae die hart vinniger laat klop. (Foto: GB Jordaan)

Bryan Habana se uittrede gaan ʼn leemte laat – en nie net as rugbyspeler nie.

Maroela Media het Dinsdag, met die nuus dat hy vanjaar klaarmaak, sy gedagtes oor sy uittrede en wat rugby vir hom beteken, geplaas.

Lekker leesstof, selfs vir die gewone mens wat nie veel in rugby belang stel nie.

Dít is soos hy was. ʼn Sagte, nederige mens, ondanks die miljoene wat hy saam met tonne eer op die rugbyvelde ingeoes het.

Die ware beroepsmens, as rugbyspeler. Altyd met ʼn glimlag, sonder daardie uitermatig bultende spiere wat so baie van ons voorste spelers laat glo dat hulle só beter rugby sal speel.

Bryan Gary Habana is hierdie week deur die president van die SA Rugbyunie, Mark Alexander, bestempel as een van Suid-Afrika se beste sportmanne nóg. Groot woorde, maar baie naby aan die kol.

Habana het feitlik alles vermag wat ʼn rugbyspeler kon. Hy het in 124 toetse gespeel, die tweede meeste deur enige Springbok; sy 67 toetsdrieë is ʼn SA rekord; hy het drie keer in ʼn Wêreldbekertoernooi gespeel en een keer (2007) as wenner uit die Webb Ellis-beker gedrink; hy het die wendrie vir die Bulls gedruk toe hulle in 2009 in die eindstryd in Durban die eerste Suid-Afrikaanse span was wat die Superrugbytitel gewen het.

Habana is in 2007 as Wêreldrugby se speler van die jaar aangewys – een minder as Naas Botha se vier keer.

Hy het sy spanne die Curriebeker, die Drienasiesreeks (nou die Rugbykampioenskap), die reeks teen die Britse Leeus in 2009, die Superreeks, die Europese Beker en die Franse Top14-liga help wen.

Habana op volle vaart was ʼn verskrikking vir sy teenstanders. Sy werkywer was ook uitsonderlik en sy voorgevoel, soms met waaghalsige onderskeppings, het hom ʼn grote help maak.

Ondanks sy afwesigheid uit die Superreeks sedert hy in 2013 vir Toulon gaan speel het, het Habana in 118 Superwedstryde gespeel waar hy 56 drieë vir die Bulls en die Stormers gedruk het.

Habana hou steeds die rekord (21 drieë) in die Drienasiesreeks, wat nou die Rugbykampioenskap is. Hy hou die gesamentlike rekord van agt drieë in ʼn Wêreldbekertoernooi (2007) en het in 2015 gelyk getrek met die grote Jonah Lomu se rekord van 15 drieë in alle Wêreldbekertoernooie.

Hy het ook sy merk vir die Blitsbokke gemaak en in 2004 en 2016 vir hulle gespeel en in 2003 die Junior Springbokke verteenwoordig.

Tussen die Superwedstryde het hy in 2003/’04 vir die Goue Leeus (21 wedstryde), en toe vir die Blou Bulle (14) en vir die Westelike Provinsie (agt) gespeel.

Ja, Bryan Habana was ʼn grote.

Die man wat sy rugbyloopbaan by King Edward School (KES) in Johannesburg as ʼn skrumskakel die aandag getrek het, sal as speler en mens in rugby gemis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Juandre ·

Bryan Habana was nie so wonderlike speler soos wat die skrywer uitbeeld nie. Ja hy het ‘n klomp punte aangeteken maar as jy gaan kyk na die meeste van sy drieë wat gedruk was, was dit oor die feit dat hy op die regte plek en regte tyd daar was. Hy het baie drieë net bloot afgerond nadat daar alreeds deur die gapings gebreuk was deur ander spelers. Hy het miskien ‘n bietjie spoed gehad maar in my oë was hy nie ‘n baie vaardige vleuel nie. ‘n Mens kan ook nie altyd net op ‘n onderskep drie staat maak nie en hy het baie drieë so gedruk dieselfde as Jean de Villiers, maar sou hy altyd sy man een tot een klop ek is nie so seker nie.

Jean ·

Bryan Habana was n puik speler en het gapings en driee gemaak !!!!
Sal hom mis !!!
Definitief een van die beste vleuels in die spel gewees!!!!

Fan ·

Ja, julle sharks het niks van hom gehou na daai wendrie nie. Ai, suur druiwe!! Om vir 14-15 jaar op die topvlak mee te ding en al die rekords en welslae te behaal, moet jy besonders wees!!

rollie ·

Fantastiese speler. Dis nie enige Jan Rap en sy maat wat die IRR se speler van die jaar ontvang nie. Word ook wereldwyd as een van die beste vleuels van alle tye beskou en gerespekteer.

Callie ·

Asb mense. Een van die grotes. Nie n kwota nie. Dis hoekom hy so ondersteun was deur toeskouers. Tel onder die heel grotes

bloues ·

Juandre, dit is wat hom so uitsonderlik en ‘n grote gemaak het. Juis dit. Baie keer op die regte tyd op die regte plek, omdat hy die spel verstaan het en die spel kon lees.
Habana se rugby het ‘n duik geneem toe die grootskerm by die veld vir hom belangrik geraak het. Hy het kort kort daarna gekyk om homself te sien, en dan nie op die spel gekonsenreer nie.
Maar voor dit was hy baie baie goed!

Juandre ·

Hy het baie keer verkeerdelik gegaan vir die onderskep drie net om dan die bal te mis en die opponente sodoende ‘n drie in die hoekie druk. Na soveel toetse sou ‘n mens verwag het dat hy op verdediging nie vir die binne persoon gaan nie maar vir sy eie vleuel wat hy kantlyn toe moes uitdruk, ‘n basiese verdedigingstegniek wat jy al op laerskool moes leer. Ek stem saam hy het groter geraak as die spel en was verseker nie ‘n nederige persoon nie en was meer bekommerd oor sy eie beeld. Kan hom nie in dieselfde klas sit as byvoorbeeld David Campese, Ray Mordt, Karel du Plessis, Lomuh nie. Maar vir ons gemiddelde Springbokke was hy seker nie te sleg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.