Buig die All Blacks die reëls vir Sonny Bill?

Sonny Bill Williams (Facebook Daily Telegrapgh)

Wat is die Nieu-Seelanders se beheptheid met Sonny Bill Williams?

Is hy werklik so goed dat hulle bereid is om die reëls klaarblyklik te buig?

Het hulle dan so gou vergeet van die rooi kaart wat hy in Junie in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus in Wellington gekry het wat die reeks gelykop laat eindig het?

Williams het ʼn harde stamp teen die kop gekry in Saterdag se eerste Rugbykampioenskapkaptoets teen die Wallabies in Sydney, maar hy het nie die verpligte harsingskuddingtoetse op die veld ondergaan nie.

Woensdag het hy die jawoord by die All Black-keurders gekry vir die tweede toets in Dunedin, nadat hy die toetse glo suksesvol afgelê het.

Vreemd, heel vreemd…

ʼn Speler wat wel ʼn reeks harsingskuddingtoetse moes aflê, die woelige haker Dane Coles, speel in sy 50ste toets nadat hy verlede jaar laas in November toetsrugby gespeel het toe die All Blacks Frankryk met 24-19 geklop het.

Coles het in Maart erge simptome van harsingskudding begin toon en was byna die hele Superrugbyreeks langs die kantlyn en bloot die waterdraer vir die Hurricanes.

Hy sou reeds verlede week in Sydney gespeel het, maar is volgens die afrigter, Steve Hansen, as ʼn voorsorgmaatreël onttrek nadat hy weer van ʼn hoofpyn gekla het.

Coles, wat in Codie Taylor se plek gekies is, is die enigste verandering in die opdrafspan, maar daar is twee veranderings op die plaasvervangersbank aan die span wat die Wallabies oorrompel het.

Die loskopstut Kane Hames vervang Wyatt Crockett, wat ook ’n stamp teen die kop gekry het.

Die slot Scott Barrett kom in die plek van Luke Romano, wat met ’n voetbesering sukkel.

All Blacks –

Damian McKenzie, Ben Smith, Ryan Crotty, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Beauden Barrett, Aaron Smith, Kieran Read (kaptein), Sam Cane, Liam Squire, Sam Whitelock, Brodie Retallick, Owen Franks, Dane Coles, Joe Moody. Bank: Codie Taylor, Kane Hames, Ofa Tu’ungafasi, Scott Barrett, Ardie Savea, TJ Perenara, Lima Sopoaga, Anton Lienert-Brown.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bielie ·

Ek dink ek moet eerder vra, wat is jul beheptheid met Sonny Bill?

Toemaar, die All Blacks met Sonny Bill aan die spits, sal jul bergbokke in groen-en-goud, rooi, of wat ookal, nie teveel verneder nie.

Pieter Strydom ·

Hier raak ons my redenasie aan:
Reëls geld net vir sekere “omstandighede”…dit is die besluit van “Mr. Ref”..???
Reëls word misgekyk as die All Blacks speel…ag van toeka se tyd af (toe geld harder begin praat het as Respek).
Hoe dom dink Wêreld Rugby is die publiek?
Bring terug amateur rugby…toe jy nog op mdriete gekies is om vir jou land te speel, omdat jy lief is vir RUGBY (nie vir jou bankbalans nie).

Nico K ·

Ek dink daar is ‘n beheptheid met die skeidsregter wat “altyd” die All Blacks bevoordeel. Persoonlik is ek van mening dat Sonny Bill se hoogvat nie opsetlik was nie. Dit het vir my gelyk of hy net in die ou vas gehardloop het. En Pieter jy het self in jou berig gesê dat hy die toets deurgekom het. Watter reëls word dan nou gebreek? En wat Pieter Strydom betref. Jy is regtig onrealisties. Daar is geen sport in die wêreld wat meer amateur is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.