Buitebreier vir Bokke lyk al hoe sekerder

Allister Coetzee -  is hy steeds die gunsteling? (Foto: sanzarrugby.com)

Allister Coetzee – is hy steeds die gunsteling? (Foto: sanzarrugby.com)

Dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie nog nie `n nasionale hoofafrigter aangestel het nie, dui waarskynlik daarop dat dit iemand sal wees wat nie tans in Suid-Afrika afrig nie.

Was dit so, sou die man én sy rugbyunie/franchise al moes geweet het, want die Superreeks begin oor minder as agt weke. Die aangewese afrigter sal boonop sy bestuurspan moet saamstel wat nog verdere ontwrigting by sy eie en waarskynlik ook ander franchise’e sou veroorsaak.

Kyk `n mens na `n Suid-Afrikanse afrigter buite die land, is daar net Allister Coetzee en Jimmy Stonehouse wat hoegenaamd oorweeg kan word. Hulle meriete word `n bietjie later bespreek.

Vergeet maar van Jake White. Hy en Saru sit vanaf die einde van 2007 nie langs dieselfde vuur nie. Sy spanne speel ook konserwatiewe rugby – en Saru wil meer volkome rugby sien.

In Suid-Afrika is daar ook manne met waarskynlik die hoedanighede waarna Saru op soek is – en nou praat ons bloot van meriete m.b.t. afrigting en nie die ander vereistes soos transformasie in die span en die bestuur nie.

Hier dink jy aan manne soos Nick Mallett,  Rassie Erasmus, Brendan Venter, John Mitchell en selfs Peter de Villiers. En kan Gert Small, wat Ierland tot `n wêreldkrag help opbou het, nie dalk omgepraat word nie?

Van buite ons grense is daar die nie-Suid-Afrikaners John Plumtree en die voormalige All Black-afrigter Wayne Smith.

Die volgende moontlike kandidate het elkeen   heelwat goeie maar ook swak punte of daar is onsekerheid oor hulle beskikbaarheid:

Allister Coetzee –

Coetzee is seker die gunsteling vir die pos. Hy sal die tweede gekleurde van die laaste drie afrigters wees, het ʼn goeie transformasierekord en sy mediabetrekkinge is goed.

En al is hy ongetwyfeld ʼn goeie afrigter, is die vraag of hy Suid-Afrika se nasionale spel na die volgende vlak kan neem. Sy spanne se rugby is konserwatief en hy het nie dieselfde oog vir jong talent as byvoorbeeld Heyneke Meyer nie.

Coetzee was ses jaar die Stormers se hoofafrigter. Niemand kan oor sy span se posisie op die punteleer sedert 2010 kla nie. Sy spanne was, van 2010 af tot 2015, onderskeidelik tweede, tweede, eerste, sewende, elfde en derde in die onderskeie Superreekse (Super14 en Super15).

In 2010, 2011, 2012 en 2015 het Coetzee se Stormers egter in vyf uitspeelwedstryde gespeel waarvan hulle net die halfeind in 2010 (teen die Waratahs in Kaapstad) gewen het voor hulle toe in die eindstryd teen die Bulls vasgeval het.

Die volgende vertel ook ʼn hartseerverhaal oor die span se driedrukvermoë onder Coetzee se afrigting:

♦ 2010: Tweede plek op die punteleer; 36 drieë (die sesde minste uit 14 spanne) en elf minder as die Bulls wat die meeste gedruk het. Net vier drieë-bonuspunte, die sewende minste in die reeks.)

♦ 2011: Tweede plek op die punteleer; 33 drieë, (vierde minste uit 14 spanne). Net vyf spanne het minder as die Stormers se vier drieë-bonuspunte gehad.

♦ 2012: Boaan liga, maar met die minste drieë (28, wat dertig minder is as dié van die Hurricanes (58) en 22 minder as die Bulls (50). Die Stormers het nie ʼn enkele drieë-bonuspunt verwerf nie.

♦ 2013: Sewende op die punteleer, een bonuspunt, en met 30 drieë, net een meer as die twee swakste driedrukkers, onder meer die Southern Kings, wat onderaan die punteleer was.

♦ 2014 Elfde op punteleer, 30 drieë, die derde minste. Slegs twee bonuspunte vir drieë.

♦ 2015: Derde op punteleer, 32 drieë, met net die twee onderste spanne, die Blues en die Force, onder hulle. Die Cheetahs, laaste in die Suid-Afrikaanse afdeling van die kompetisie, het 44 drieë gedruk – 12 meer as die Stormers. Twee drieë-bonuspunte.

Jimmy Stonehouse –

Jimmy Stonehouse is ongetwyfeld ʼn uitstekende afrigter , maar het nog niks bereik wat hom ʼn ernstige kandidaat as Bokafrigter maak nie. Ja, hy het die Pumas as span meer mededingend gemaak en in 2010 na die Curriebeker se Premierliga laat opskuif. Twee seisoene later was hulle egter terug in die Eerste Liga waar hulle in 2012 en 2013 gespeel het voor hulle weer bevorder is.

Stonehouse, ʼn afrigter wat geen nonsens van die spelers duld nie, het nog nie op franchisevlak afgerig nie. Hy is tans by die Toshiba Brave Lupus-klub in Japan.

Rassie Erasmus –

Een van die flinkste rugbybreins in die land met ʼn besef hoe die stelsel móét verander en veral verander kan wórd. Hy is tans die hoofbestuurder: hoëprestasiespanne by Saru.

Benewens die kwessie van Erasmus se bereidwilligheid om die taak aan te pak, is daar die ontwrigting wat dit by Saru in sy portefeulje sal veroorsaak.

Brendan Venter –

Hy het in 2013 in sy kortstondige tydperk as die Sharks se direkteur van rugby ʼn groot rol gespeel toe die Sharks die Currriebeker gewen het.

Venter moes ingryp na die Sharks John Plumtree tydens die Superreeks die pad gewys het. Venter is hoog deur die Sharks se spelers aangeslaan, maar hy kon  weens sy voortgesette betrokkenheid as “reisende” tegniese adviseur by Saracens in Londen en sy mediese praktyk in die Kaap nie voltyds afrig nie.

Het, of kan, sake dalk verander?

Nick Mallett –

Mallett, een van Suid-Afrika se suksesvolste nasionale afrigters, is ʼn skitterende afrigter maar ook ʼn man wat te dikwels in sy afrigtingsdae met rugbybase en spelers haaks was. Hy neem ook impulsiewe besluite, soos met die spankeuse vir die 1999-Wêreldbekertoernooi.

Mallett het al herhaaldelik gesê hy stel nie belang om die Bokke weer af te rig nie. Sy inkomste as televisie-ontleder tydens groot wedstryde maak dit in elk geval vir hom moeilik om daar pad te gee na ʼn pos waar hy veel meer stres sal ervaar.

John Mitchell –

John Mitchell is een van die heel bestes wat nóg in Suid-Afrika afgerig het.

Hy is egter nie ʼn maklike man om mee oor die weg te kom nie. Sy interpersoonlike verhoudinge het hom voorheen die poste as All Black- en Western Force-afrigter gekos.

Sy uitval met die GLRU, waar Mitchell se paadjie en dié van die Goue Leeus geskei het na ʼn interne dissiplinêre verhoor, het hom in die afrigtingswoestyn laat beland. Hy is wel op die meerderheid klagte wat sy spelers gelê het onskuldig bevind, maar die Leeus se spelers het verseg om met hom as afrigter voort te gaan.

Mitchell het toe in 2014 die UKZN in die Varsityskildreeks afgerig. Met die vertrek van Allister Coetzee by die Stormers verlede jaar het Mitchel tydens onderhandelinge gehou daarby dat hy die WPRU se bestuurspan ten volle wil vervang en hy het ook op ʼn vierjaarkontrak aangedring.

Die onderhandelinge was daarmee op die rotse.

Laat verlede jaar het dit gelyk of Mitchell en die WPRU tot ʼn vergelyk gekom het dat hy by Nuweland sal afrig na Eddie Jones gedros het. Saru se president Oregan Hoskins en ook dié van die GLRU, Kevin  de Klerk, het egter die feite van Mitchell se skeiding met die GLRU aan die WPRU bekend gemaak en hy is nie aangestel nie.

Peter de Villiers –

ʼn Mens kry die voorlaaste hoofafrigter van die Bokke jammer. Niemand wil hom aanstel nie en ʼn mens kan nie anders nie as om te dink dat hy ʼn paar besluitnemers kwaad gemaak het nie.

Hy is ʼn bekwame afrigter wat met sy sêgoed baie mense omgekrap het, maar dit gaan die verstand te bowe hoe Snorre nie op vele vlakke deur Saru nadergetrek word nie.

Sy kanse om die Bokke weer af te rig is dus nul.

Wayne Smith –

Die voormalige All Black-afrigter Wayne Smith is een van die heel, heel bestes in wêreldrugby wat ʼn groot rol agter die skerms by die All Blacks speel. Ondanks persbespiegelinge dat hy op ʼn kortlys vir die Springbokpos is, sal Smith nie byt nie. Hy het dit duidelik gemaak hy wil geen span afrig wat teen die All Blacks speel nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Arie ·

As jy vir snorre goedpraat lees ek in die vervolg niks wat jy skryf nie, 2015 was die laaste jaar van rugby soos ek dit wil onthou, nou praat ek nie verloor goed nie maar van nou af is dit al wat ons gaan doen – verloor. Dit gaan ook nie noodwendig die afrigter se skuld wees nie maar politiek, net soos met Meyer, vra vir cosato wie moet afrig.

Marius van Niekerk ·

Dit is weereens ‘n geval van provinsialisme. Nêrens word melding gemaak van Johan Ackermann nie, net soos dat geen Leeu vir die wêreldbekerspan gekies is nie. Met die aanvang van die wêreldbeker, het ek my dank teenoor Heynecke Meyer uitgespreek, juis hiervoor, want ek het geweet dat die Lions die curriebeker sou wen. Nou, weereens aan al julle slim manne: Dankie!! Die Leeus gaan goed doen in die Superrugbyreeks, juis as gevolg daarvan. Cheers!!! Op die Leeus!!! Jammer Bokke….. Julle gaan dit nie maak nie!

Tanja Davel ·

Ek stem Marius! Akkies en sy goue springbokke (leeus) gaan almal laat les opse. My bloed is in elk geval nie meer so lekker groen nie…

Milan Bye ·

Nee, dis nie provinsialisme nie. Dit word in die berig duidelik gestel dat dit nie lyk of die breiers wat tans in SA afrig, oorweeg sal word nie. Dis onwaarskynlik dat hulle aangestel sal word (soos in die berig gestel is), omdat hulle Superspanne daaronder sal ly met baie min tyd vir die aanstelling van `n nuwe afrigter en/of bestuurspan, en ook die voorbereiding van die span deur die nuwe afrigter voor die Super18 se afskop oor sewe weke nie.
Hoe sal die Lions byvoorbeeld vaar as hulle Ackermann nou Bok-afrigter maak en hy neem sy hoogaangeskrewe assistent Swys de Bruin en feitlik sy hele bestuurspan met hom saam na die nasionale span? Dan word dit weer `n driejaar-opbouproses wat Ackermann-hulle pas deurgemaak het.

Tanja Davel ·

Ek dink dis tyd om Jimmy van die Pumas ‘n kans te gee. Ten minste gaan ons hardloop rugby sien en hy behoort die ou manne en die kreupeles oor die hoof te sien. Kan interessant raak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.