Bulle bó in Loftus-puntefees

Daar is vanaand op Loftus Versfeld fees gevier. Foto: GB Jordaan.

Watwou!

Die Blou Bulle en die Leeus het vandag op Loftus Versfeld met een van die opwindendste Curriebeker-wedstryde van die seisoen vorendag gekom.

Ná 80 aksiebelaaide minute het die Pretorianers met 43–37 gewen nadat hulle in ’n stadium met 35–10 voorgeloop het.

Burger Odendaal se drie net voor rustyd het egter die Johannesburgers se herlewing ingelui en hulle het vir die grootste gedeelte van die tweede helfte die septer geswaai.

Burger Odendaal op die aanval. Foto: GB Jordaan.

Tog sit die einste Odendaal – wat eintlik deurgaans baie goed gespeel het – waarskynlik nou met sy hande in die hare nadat hy laat in die wedstryd (en met die Leeus net ’n enkele punt agter die Bulle) per ongeluk die bal in Richard Kriel se wagtende hande op die Leeus-doellyn aangegee het.

Kriel kon waarskynlik nie sy geluk glo nie en sy vloekskoot-drie het gesorg dat die tuisspan weer die voortou geneem het.

Ja, daar was ’n rits geel kaarte (twee per span om presies te wees), maar die 11 drieë en hoë-oktaan-aksie het vir ’n opwindende Jukskei-derby gesorg.

  • Puntemakers:

Blou Bulle: Drieë: Lizo Gqoboka, Bismarck du Plessis, Janko Swanepoel, David Kriel, Stedman Gans en Richard Kriel. Doelskoppe: Juan Mostert (4) en Keagan Johannes. Strafskoppe: Johannes.

Leeus: Drieë: Ruben Schoeman, Burger Odendaal, Francke Horn, Jaden Hendrikse en Sibusiso Sangweni. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (3). Strafskoppe: Hendrikse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.