Bulle darem weer terug tussen bekendes

Foto: GB Jordaan.

Ná verlede week se fiasko in die eindstryd van die Reënboogbeker teen Benetton in Italië, is Jake White se span vanaand terug op Loftus Versfeld vir hul eerste Curriebeker-wedstryd teen die Pumas.

Maar as die Pretorianers gedink het dat daar ’n maklike wedstryd op hulle teen die Laevelders wag, kan hulle maar solank gereed maak vir nóg ’n wrede ontnugtering.

Die Pumas het die Bulle in Januarie van hul voete gehardloop om die wedstryd in Nelspruit met 44 -14 te wen. Dan het hulle ook verlede week op ’n drafstap met die Leeus klaargespeel. Ja-nee, Jimmy Stonehouse se span is g’n kanonvoer.

Veral die stryd van die losskakels behoort vir interessante kykstof te sorg.

Eddie Fouché slaan gereeld die kitaar vir die Pumas, terwyl Chris Smith sal wil vergoed vir die so-so vertoning teen Benetton.

Dan is dit ’n ope vraag wie die septer in die skrums gaan swaai. Die Pumas se Simon Westraadt en Kie. het verlede week die Leeus vermorsel, maar die Bulle kan op die talent en ervaring van ’n Lizo Gqoboka en ’n Schalk Erasmus steun.

Agterlangs maak Harold Vorster sy buiging vir die Bulle, terwyl die 38-jarige Gio Aplon op heelagter sal uitdraf.

“Dit is ’n groot wedstryd vir ons en ons sal probeer om weer op die wenpad te kom. Die Pumas het verlede week baie goed gespeel en hulle sal ons wil seermaak, maar ons weet wat van ons verwag word,” het White gesê.

Die wedstryd begin vanaand om 19:00.

Pumas: Devin Williams (heelagter), Tapiwa Mafura (regtervleuel), Erich Cronjé (buitesenter), Matt More (binnesenter), Etienne Taljaardt (linkervleuel), Eddie Fouché (losskakel), Chriswill September (skrumskakel), Willie Engelbrecht (agtsteman), Phumzile Maqondwana (flank), Francois Kleinhans (flank), Darien Landsberg (slot), Pieter van Vuren (slot), Marné Coetzee (stut), Simon Westraadt (haker) en Dewald Maritz (stut). Plaasvervangers: Ruan Kramer, Eduan Swart, Ig Prinsloo, Brandon Valentyn, Kwanda Dimaza, Ginter Smuts, Wayde van der Bank en Jade Stiglingh.

Blou Bulle: Gio Aplon (heelagter), Madosh Tambwe (regtervleuel), Harold Vorster (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), Stravino Jacobs (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Ivan van Zyl (skrumskakel), Marcell Coetzee (agtsteman), Ruan Nortjé (flank), Nizaam Carr (flank), Janko Swanepoel (slot), Walt Steenkamp (slot), Mornay Smith (stut), Schalk Erasmus (haker) en Lizo Gqoboka (stut). Plaasvervangers: Sidney Tobias, Simphiwe Matanzima, Jacques van Rooyen, Muller Uys, WJ Steenkamp, Zak Burger, FC du Plessis, David Kriel, Robert Hunt, Ruan Delport, Jaco Labuschagne, Keagan Johannes en Marco Jansen van Vuren.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Snowball ·

Vlugvoos vanaf Italië???? Nie Oos of Wes gevlieg nie, so geen tyd gewen of verloor nie, half onmoontlik om poerdes te wees van ‘n vlug uit Italië uit. Topfiks sportmanne nou vlugvoos! Oh come on! Dink iets anders uit vir ‘n verskoning.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.