Bulle druk agt keer teen Leeus; WP sukkel teen Pumas

Pierre Schoeman – speler van die wedstryd teen die Goue Leeus (Foto: GB Jordaan)

Die Blou Bulle het Saterdag met hulle hardlooprugby voortgegaan en die hartseer in Johannesburg ingevryf deur die Goue Leeus met 54-22 op Loftus te klop.

Die Bulls was binne net 11 minute reeds 21-0 voor ná drie drieë en het met rustyd 28-15 voorgeloop ná ʼn vierde verdoelde drie.

Hulle het in  die tweede helfte nog vier drieë bygevoeg en die Leeus het self vier keer gaan druk.

Dit was die Bulls se tweede oorwinning nadat hulle die eerste naelskraap teen Griekwas gewen het. Die Goue Leeus, daarenteen, het nou net een oorwinning uit drie wedstryde behaal met ʼn span wat ver van hul sterkste is omdat hul topspelers nog Saterdag in die Super-eindstryd gespeel het.

Die nuwe genooide na die Springbokkamp, Warrick Gelant met sy vaartversnelling, en die vleuel Travis Ismaiel was aan die brand en het Ryan Kankowski se span laat bontstaan. Voorlangs het Pierre Schoeman goed geskrum en was hy ʼn doring in die vastelos.

Abongile Nonkontwana het in sy 20 minute van die bank af weer die aandag getrek en Burger Odendaal, Piet van Zyl en Jannes Kirsten se Superervaring was duidelik.

Die Bulle het vanuit die staanspoor met elke greintjie besit probeer hardloop. Daar was egter goeie struktuur, en dit is duidelik dat daar iets is wat op Loftus aan ’t gebeur is.

Tony Jantjies duik oor vir een van die Bulle se agt drieë (Foto GB Jordaan)

Daar was nog te veel foute met die baie besit en aanhoudende gehardloop, en besluitneming was nie altyd heeltemal suiwer nie. Dit kan egter reggemaak word – en belangriker is dat die dissipline-probleme wat drie geelkaarte tot gevolg gehad het, reggestel moet word.

Puntemakers –
Blou Bulle (28) 54: Drieë: Piet van Zyl, Ruben van Heerden, Tony Jantjies, Burger Odendaal, Warrick Gelant, Travis Ismaiel, Pierre Schoeman. Doelskoppe: Jantjies (5), Tinus de Beer, JT Jackson.
Goue Leeus (15) 22: Drieë: Aphiwe Dyantyi, Andrew Beerwinkel, Stokkies Hanekom. Doelskop: Shaun Reynolds.

WP sukkel maar klop Pumas

Die Westelike Provinsie het Saterdag op Nuweland 50 minute lank gestotter en moes op ʼn goeie laaste halfuur staatmaak om die Pumas met 34-19 te klop.

Die Pumas het in die eerste helfte goed verdedig en die swak hanteerfoute en snaakse besluitneming van die WP uitgebuit om twee keer te gaan druk en rustyd met 12-10 voor te loop.

Kort ná rustyd het die besoekers weer gaan druk en met 19-10 voorgeloop voordat die WP hom reggeruk en rugby van ʼn meer aanvaarbare gehalte gespeel het.

Hulle het nog vier drieë, waaronder ʼn strafdrie, aangeteken om hul eerste oorwinning in die kompetisie te behaal. Met die strafdrie wat sewe punte tel, was die WP met net een van die vyf doelskoppe suksesvol.

Binne die volgende week moet die span nog teen Griekwas en die Blou Bulle speel. Hulle sal moet veel beter speel as hulle nie vroeg in die Curriebekerreeks reeds te ver wil terugsak om nog ʼn seggenskap te hê nie.

Puntemakers

WP (10) 34: Drieë: Seabelo Senatla, SP Marais, Bongi Mbonambi, Dillyn Leyds, strafdrie, Nizaam Carr. Doelskop: SP Marais.
Pumas (12) 19: Drieë: Stephan Greeff, Devon Williams, Jerome Pretorius.  Doelskoppe: Kobus Marais 2

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

gerrie ·

WP het nog net twee wedstryde gespeel. Hulle rus ook nog van hul beste spelers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.