Bulle en Leeus in Loftus-uitklopstryd

Cornal Hendricks (Blou Bulle) en Elton Jantjies (Leeus). Foto: GB Jordaan.

’n Vinnige soektog op die internet toon dat twee van die Pumas se sterre, Pieter van Vuren en Devon Williams, hul Nostradamus-hoedjies nadergetrek het om hul gunsteling vir die naweek se Curriebeker-halfeindstryd tussen die Bulle en die Leeus op Loftus Versfeld te voorspel.

Al twee spelers glo dat die Pretorianers (met 27–20 en 22–16 ) die wa deur die drif sal trek.

Ja, die Bulle het die Superrugby Unlocked-toernooi gewen, hulle word deur Jake White (’n man wat daarvan hou om te wen) afgerig en hulle het die vorige kleedrepetisie op Loftus Versfeld gewen, maar in uitklopwedstryde kan enigiets gebeur.

Die Bulle se generaal – die 36-jarige Morné Steyn – sal in sy 100ste provinsiale wedstryd vir die Blou Bulle uitdraf. Sy skopstryd met Elton Jantjies en Tiaan Swanepoel kan deurslaggewend wees, veral as die spanne konserwatiewe strafskoprugby speel.

Maar hopelik sal spelers soos Stedman Gans, Wandisile Simelane, Kurt-Lee Arendse en Courtnall Skosan ’n stokkie daarvoor steek – dit is steeds lekkerder om na drieë as ’n geskoppery op televisie te kyk.

Foto: GB Jordaan.

Die skrumstryd sal deurslaggewend in hierdie verband wees. Voorspelers doen immers die donkiewerk terwyl die agterspelers vir die daaropvolgende glansfoto’s kan sorg.

Vir eens is daardie geykte waarneming deur skoolrugby-afrigters van oor die hele land in die kol. “Die span wat dit die graagste wil hê”, sal waarskynlik met die louere wegstap. In uitkloprugby kan enigiets mos inderdaad gebeur.

Die Bulle is op papier die gunstelingspan om met die louere weg te stap. Onthou net, moet nooit ’n Leeutrop onderskat nie.

  • Die wedstryd begin Saterdag om 14:00 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Blou Bulle: David Kriel (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Stedman Gans (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), Stravino Jacobs (linkervleuel), Morné Steyn (losskakel), Ivan van Zyl (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman en kaptein), Elrigh Louw (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortje (slot), Sintu Manjezi (slot), Trevor Nyakane (stut), Schalk Erasmus (stut) en Lizo Gqoboka (stut). Plaasvervangers: Johan Grobbelaar, Jacques van Rooyen, Mornay Smith, Jan Uys, Arno Botha, Embrose Papier, Chris Smith en Marco Jansen van Vuren.

Leeus: Tiaan Swanepoel (heelagter), Stean Pienaar (regtervleuel), Wandisile Simelane (buitesenter), Burger Odendaal (binnesenter), Courtnall Skosan (linkervleuel), Elton Jantjies (losskakel en kaptein), Andre Warner (skrumskakel), Len Massyn (agtsteman), Vincent Tshituka (flank), Jaco Kriel (flank), Marvn Orie (slot), Willem Alberts (slot), Jannie du Plessis (stut), Jaco Visagie (haker) en Sti Sithole (stut). Plaasvervangers: Jan-Henning Campher, Ruan Dreyer, Carlu Sadie, Reinhard Nothnagel, Wilhelm van der Sluys, Morne van den Berg, Dan Kriel, Francke Horn, Nathan McBeth, EW Viljoen en Ross Cronje.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jakes ·

Beide spanne speel goeie rugby want hulle konsentreer op die spel en nie die politiek nie. Hul resultate is n bewys daarvan. Tenminste ondersteun hulle nie die BLM tjol nie.

Frans ·

Met ‘n verwagte temperatuur (ENCA) van 16-35 hoop ek dat daar voldoende,so elke 20 minute waterbreke sal wees.Wonder wie se idee dit was om ‘n wedstryd vir die tyd van die dag te reël.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.