Bulle hardloop Griekwas kis op Loftus

Tian Schoeman het Vydagaand self gehardloop en bresse geslaan (Foto GB Jordaan)

Tian Schoeman het Vrydagaand self gehardloop en bresse geslaan (Foto GB Jordaan)

Nollis Marais werk al van verlede jaar af aan volkome rugby, en dit is tot dusver hier en daar gesien. Dit was egter Vrydagaand duidelik dat die Blou Bulle hierdie nuwe benadering onder die knie begin kry.

Die Bulle het Griekwas op Loftus 57-20 geklop, agt drieë insluitende ʼn strafdrie op die telbord geplaas en net twee afgestaan, en lyk skielik na ʼn bedreiging vir die ander spanne in die reeks. Hulle is nou tweede op die puntelys.

Die Blou Bulle het in die tweede helfte 33 punte teen sewe aangeteken nadat Griekwas aanvanklik redelike weerstand gebied het. Die rustydtelling was 24-13, maar  dit was toe reeds duidelik dat hier ʼn groot telling kan kom.

Die Bulls het besit oorheers, Tian Schoeman het hulle aanvanklik gebiedsvoordeel met hang- en lang skoppe besorg, en toe het hulle net eenvoudig gehardloop en gehardloop.

Griekwas se verdediging het onder die aanslag geswig en hulle het amper net soveel duikslae gemis as waarmee hulle suksesvol was.

Die Bulle se lynstaanwerk was puik, en RG Snyman en Marvin Orie het gewys wat vaardigheid en vaart onder vaste voorspelers kan beteken.

Snyman moet egter die induik in losskrums sonde om sy arms te gebruik uitskakel.  Hy het weer ʼn geel kaart hiervoor gekry. Vorentoe mag dit sy span duur te staan kom.

Die Bulle se afrigter Nollis Marais sal ongetwyfeld voel daar is nog skaafplekke. Sy wens van ʼn reeks opeenvolgende goeie wedstryde is egter nou werklikheid en hy sal veral bly wees oor die ondersteunende spel van sy span waar voor- en agterspelers saam op die aanval baljaar het.

Griekwas het weinig besit gehad, maar dit was tog duidelik dat hulle ʼn lekker agterlyn het en dat hulle, as hulle nie voor so vasgevat word soos Vrydagaand nie, hul teenstanders kan opkeil. Aanstaande naweek sal dit die WP wees wat in Kimberley sal moet uithaal.

Puntemakers –

Blou Bulle (24) 57: Drieë: Nic de Jager, Jamba Ulengo, RG Snyman, Piet van Zyl 2, Ulrich Beyers, Strafdrie, Bjorn Basson. Doelskoppe: Tian Schoeman 7. Strafdoel: Schoeman.
Griekwas (13) 20: Drieë: Alshaun Bock, Wandile Putuma. Doelskoppe: Clinton Swart 2. Strafdoele: Swart (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hasie ·

Die Bulle loop nou met hul horing in die lug, maar hulle neuse was nou onlangs in die grond gevryf deur die Sharks op hulle (die Bulle) tuisveld. Die Cheetahs gaan dit ook weer doen. Daar sal trane wees, dit sal lyk of die Apiesrevier in vloed is. Dit is indien hulle in Pta speel. Speel hulle in Bloemfontein wil ek iets ergers voorspel.

Harry ·

Ja cheetah man. Nou is die mond groot maar wag maar en sien. Dalk is jy die man wat met groot trane die dag gaan he. Moet nooit die bulle afskryf nie.Maak nie saak waar hulle speel nie.

Ben Prinsloo ·

Hasie hoekom is jou stert so kort? Aag ons weet mos almal die bulle het hom afgetrap. En sommer hasie se tjank ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.