Bulle kies grofgeskut vir Kimberley-stryd

Arno Botha is deel van ’n sterk Bulspan wat die pad na Kimberley aandurf. Foto: GB Jordaan.

’n Sterbelaaide span uit Pretoria sal die pad na Kimberley vir môre se Curriebeker-wedstryd tussen die Blou Bulle en Griekwas aanpak.

’n Hele paar van die spelers het verlede naweek in Italië diens gedoen toe die Pretorianers vir Zebre met 45 – 7 in ’n Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd getroef het.

Marcell Coetzee sal die span aanvoer, terwyl die vlugvoetige Kurt-Lee Arendse en die opwindende Canan Moodie in die agterlyn is. Stedman Gans en Cornal Hendricks is die senterpaar met Chris Smith wat die no. 10-trui dra.

Voorlangs sal die immergroen Bismarck du Plessis saam met Simphiwe Matanzima en Robert Hunt in die skrum sak.

Selfs met al die sterre in hul vyftiental sal die Bulle steeds baie goed moet speel om Griekwas op hul tuisveld te troef.

Dit is nooit maklik om in Kimberley te speel nie, terwyl die tuisspan boonop in hul vorige wedstryd met die Westelike Provinsie afgereken het.

In Zander du Plessis (binnesenter) het hulle ook ’n jong speler wat die bal deksels ver (lees ’n suksesvolle doelskop van 63 m) kan skop. ’n Paar groter unies kan nog eendag vir sy handtekening vuisslaan.

Die wedstryd begin môre om 14:30 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Blou Bulle: Kurt-Lee Arendse (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), Stedman Gans (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), Richard Kriel (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Muller Uys (agtsteman), Arno Botha (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Janko Swanepoel (slot), Walt Steenkamp (slot), Robert Hunt (stut), Bismarck du Plessis (haker) en Simphiwe Matanzima (stut). Plaasvervangers: Schalk Erasmus, Lizo Gqoboka, Kowie Roos, Reinhardt Ludwig, WJ Steenkamp, Keagan Johannes, Juan Mostert en Lionel Mapoe.

Griekwas: Rynhardt Jonker (heelagter), Munier Hartzenberg (regtervleuel), Christopher Hollis (buitesenter), Zander du Plessis (binnesenter), Luther Obi (linkervleuel), Fiela Boshoff (losskakel), Stefan Ungerer (skrumskakel), Siba Qoma (agtsteman), Hanru Sirgel (flank), Niel Otto (kaptein en flank), Derik Pretorius (slot), Mzwanele Zito (slot), Janu Botha (stut), Janco Uys (haker) en Eddie Davids (stut). Plaasvervangers: Gustav du Rand, Kudzwai Dube, Andries Schutte, Johan Retief, Michael Amiras, Raegen Oranje, André Swarts en Sango Xamlashe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.