Bulle knoop Leeus se sterte

Die Bulle het Saterdagmiddag op Elllispark hul kragmeting met 48-21 gewen. (Foto: GB Jordaan)

Die Blou Bulle het hul plek vasgemessel om tuis in die uitspeelrondes van die Curriebekerreeks te speel, maar vir die Leeus wag daar swaarkry.

Die Bulle het Saterdagmiddag op Elllispark hul kragmeting met 48-21 gewen en loop nou gerieflik met 39 punte op die puntelys voor, nege punte voor die Haaie (30).

Die Leeus is vyfde (24), maar hulle het twee wedstryde meer as die Westelike Provinsie (22) en Vrystaat-Cheetahs (19) gespeel.

Die Bulle het ʼn kliniese vertoning gelewer, veral toe van die talentvolle jongelinge wat in die eerste helfte gespeel het deur hardebaarde vervang is.

Die Bulle het voor oorheers en nie geskroom om agterlangs aan te val nie. Sewe drieë vertel die verhaal van oorheersing. Die ondersteuning was altyd daar, kanse is geskep vir spelers in ʼn beter posisie en aan afronding het dit beslis nie ontbreek nie.

Almal weet teen dié tyd dat die afrigter, Jake White, raakgevat het met sy aankopies, maar steeds moet hy die spelers se vaardighede ontwikkel, van hulle beter spelers maak en verseker dat hulle bly groei.

Jy kan dit aan die spelers se selfvertroue sien: Hulle glo aan die bouproses; hulle hou by die grondbeginsels.

Die Leeus hou nou asem op dat van die ander voorlopers langs die pad sal vasval, terwyl hulle hul oorblywende wedstryde teen die Westelike Provinsie en Haaie moet wen om die agterdeur oop te hou.

Wandisile Simelane beur vorentoe met die bal. (Foto: GB Jordaan)

Daar is talentvolle spelers en hope werkywer, maar ongelukkig is daar te veel tekortkominge, meestal vanweë ʼn gebrek aan ervaring.

ʼn Algehele ommeswaai gaan nie oornag gebeur nie, maar oor ʼn paar weke word daar met van Europa se voorste spanne skouer geskuur en hopelik sal daar uitkoms wees.

Punte: Blou Bulle 48 (17). Drieë: Janko Swanepoel, WJ Steenkamp, Gerhard Steenekamp, Chris Smith, Johan Goosen, Madosh Tambwe, Zak Burger. Doelskoppe: Chris Smith (5). Strafdoel: Smith.

Leeus 21 (16). Drie: PJ Steenkamp, Natham McBeth. Strafdoele: Jordan Hendrikse (3). Doelskop: Hendrikse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.