Bulls kry eerste kans om met Rassie se strukture vertroud te raak

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, het sy eerste stap geneem om van die kandidate vir die Bokspan met die nuwe afrigtingstrukture vertroud te maak.

Die eerste van drie kampe word vanaf 1-4 April in Vanderbijlpark gehou. Elf spelers van die Bulls, wat die volgende naweek ʼn loslootjie het, sal die sessie van Erasmus, sy assistentafrigters en bestuur bywoon.

Daar sal geen  fisieke aktiwiteite op die veld wees nie en die klem sal daarop wees om die spelers vertroud te maak met wat Erasmus van hulle verwag, kondisionering en basiese beginsels.

♦  Die skedulering van die oefenkampe is gedoen met die voorbereiding van die Springbokke en die verpligtinge van die vier spanne in die Superreeks wat in gedagte gehou word.

“Ons wil uiteraard nie die weeklikse voorbereiding van die Superspanne ontwrig nie, maar dit is net so belangrik dat ons terselfdertyd in die agtergrond voortgaan met die voorbereiding van die Springbokke in die agtergrond,” sê Erasmus.

Die Bulls het die naweek van 7 April ʼn loslootjie. Die Stormers en die Lions se spelers sal die daaropvolgende week, 8 tot 11 April, hulle kans kry, en die Sharks kom van 22 tot 25 April aan die beurt omdat hulle oor die naweek van 28 April geen wedstryd  het nie.

“Ons begin as ʼn nuwe groep. Dit is dus belangrik dat die afrigters soveel van die spelers moontlik ontmoet wat ons in gedagte het vir die toetse teen Wallis en Engeland en met hulle werk.”

♦  Erasmus sê die assistentafrigters werk nou saam met die Superfranchise’e in die opbou na die internasionale seisoen. Die afrigters het die franchise’e besoek om ondermeer ʼn beter begrip te kry van hoe hulle die spanne voorberei.

Die twee spanne in die Pro14-reeks, die Cheetahs en die Southern Kings, sal ook aan die beurt kom sodra hulle ligaverpligtinge ten einde loop.

Die Springbokke (een van die twee Bokspanne wat volgens alle aanduidings gekies sal word) speel op 2 Junie in Washington teen Wallis.

Dan volg die drie toetse teen Engeland op die daaropvolgende drie Saterdae.

Daar moet uiteraard in hierdie vroeë stadium nie veel gelees word in die elf Bulls wat na die kennismaak-kamp genooi is nie.

Die groep –

Voorspelers: Lizo Gqoboka en Trevor Nyakane (stutte), RG Snyman, Jason Jenkins, Lood de Jager (slotte) en Roelof Smit (losvoorspeler). Agterspelers: Embrose Papier (skrumskakel), Handré Pollard (losskakel), Jesse Kriel (senter), Travis Ismaiel (vleuel), Warrick Gelant (heelagter).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.