Bulle kry nuwe uitvoerende hoof

Edgar Rathbone. Foto: Twitter.

Edgar Rathbone sal amptelik op 1 Junie die leisels by Alfons Meyer as die Blou Bulle se nuwe uitvoerende hoof oorneem.

Die Kapenaar sien uit na sy tyd in Pretoria nadat hy vir die afgelope sewe jaar by die Leeus betrokke was.

Hy het in 2013 in Johannesburg as die hoof van finansies en administrasie begin, terwyl hy vir die afgelope paar jaar as die besturende direkteur van Ellispark-stadion opgetree het.

“Ek het nog altyd baie respek vir die Bulls gehad en ek sien baie uit na die nuwe hoofstuk in my lewe,” het Rathbone gesê.

“Hoewel dit hartseer is om my kollegas by die Leeus te groet, kan ek nie wag om nuwe vriendskappe en vennootskappe by Loftus op te bou nie.”

Pieter Uys, voorsitter van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), was opgewonde om Rathbone in Pretoria te verwelkom.

“Edgar is ’n dinamiese jong man en hy word gerespekteer in rugbykringe. Hy het ongelooflike werk by die Leeus gedoen en ons glo dat hy ’n sleutelrol sal speel om ’n nuwe era by die Bulle in te lui,” het Uys gesê.

Rathbone se aanstelling kom ’n week nadat die Pretorianers en hul Superrugby-afrigter, Pote Human, se paaie geskei het.

Die beleërde afrigter het ’n nagmerriejaar op die veld beleef en toe die Superrugby-seisoen weens Covid-19 afgelas is, het die Bulls nog net een van hul ses wedstryde gewen; dit was hul swakste begin tot die reeks in jare.

Hulle was wel in 2019 die beste Suid-Afrikaanse span in die reeks.

Human was tot Oktober 2020 by die Bulle gekontrakteer, maar die 60-jarige en die Blou Bul Maatskappy het gister gesamentlik ooreengekom om sy kontrak vroegtydig te beëindig.

“My tyd by Loftus was ongelooflik om die minste te sê. Dit was ’n emosionele tuimeltrein-rit met baie hoogte- en laagtepunte. Ek het my lewe aan hierdie wonderlike spel toegewy en daar is nie ’n beter plek om jou passie uit te leef as op Loftus Versfeld nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.