Bulle laat Bok-spelers in Kaapstad bloos

Die manne van Pretoria het vandag ’n SA A-span (gelaai met Springbokke) met 17 – 14 geklop. Foto: Twitter/Blou Bulle.

Die eerste helfte tussen die SA A-span en die Blou Bulle in Kaapstad kan met twee pasgetroudes se  eerste dans as man en vrou vergelyk word nadat die senuweeagtige bruidegom nie net met die verkeerde voet losgetrek het nie, maar ook die res van die roetine vergeet het: Daar was nie veel ritme nie.

Maar dit is seker te verstane as ’n mens in ag neem dat die kragmeting inderhaas gereël is om die spelers in die Springbok-groep broodnodige wedstrydtyd te gee vóór die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus in alle erns begin.

Rugby-fynproewers sou waarskynlik hul neuse opgetrek het vir die disse wat in die eerste 40 minute van die wedstryd bedien is: ’n Vreemde mengelmoes-spyskaart van aanslane, strafskoppe, skewe ingooie by lynstane en ’n geel kaart.

Tog het die vermomde Springbokke genoeg gedoen – danksy ’n opportunistiese Cobus Reinach en drieë deur Aphelele Fassi en Wandisile Simelane – om ’n rustydvoorsprong van 14-0 te geniet.

Dit is egter algemene kennis dat die kleinste vonk soms vir die grootste vuurwerk-vertoning verantwoordelik is. En in Johan Goosen het die Pretorianers ’n speler wat te eniger tyd met daardie vonk vorendag kan kom.

Die 28-jarige losskakel het ’n reuse-aandeel in Keagan Johannes se drie gespeel, terwyl hy die Skim-bokke met sy goeie skoppies en fisieke teenwoordigheid op die agtervoet geplaas het.

Kort ná Johannes se drie het Johan Grobbelaar ’n uitstekende Bul-beweging agter die pale afgerond. Skielik was die telling 14-elk en toe Chris Smith ’n strafskop in die 75ste minuut oor die dwarslat jaag, was dit lankal nie meer net ’n oefenwedstryd vir die Pretorianers nie.

’n Wedstryd wat gereël is om antwoorde op die Springbok-bestuurspan se vrae te verskaf het toe uiteindelik net vir meer vrae gesorg.

Die Bulle het vandag gewys dat dit nie die dans is wat ’n bruilof lekker maak nie, maar die nagereg. Hulle het inderdaad die beste vir laaste gelos om met 17-14 te wen.

  • Puntemakers:

Blou Bulle: Drieë: Keagan Johannes en Johan Grobbelaar. Doelskoppe: Johan Goosen (2). Strafskop: Chris Smith.

SA A-span: Drieë: Aphelele Fassi en Wandisile Simelane. Doelskoppe: Elton Jantjies (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

Well Done Bulle
Kom ons Hoop julle het ons Bokke die nodig oemf gegee om volgende week die Leeus te klop.
Ek stem nie saam dat die toer moes voortgaan nie, terwyl ons land bloei en met die 3de Covid golf nie.
Maar besluite is geneem en ons support ons Bokke.
So go Bokke go

Sobymykoolkop ·

Johan Goosen het vir Elton Jantjies na ñ laerskool losskakeltjie laat lyk, totaal, geheel en al.

piet ·

Het nog altyd van Johan Goosen gehou. Ek onthou nog daai eerste toets wat hy gespeel het, was briljant voordat hy weer beseer is. Definitief ‘n opsie om dop te hou vir die Bokke.

Hennie ·

Dit is lekker om ‘n Bloubul ondersteuner te wees en dit bewys dat Bulle vir die Bokke span A kan klop. Morne Steyn is nie daar om te help nie maar die Bulle kan dit doen met Johan Goosen en Chris Smith. Dankie dat ek die rugby geniet het.

MakersMark ·

Bulle het laaste 25 min die pap lekker dik aanmaak. Goosen was briljant ongelukkig was Jantjies ellendig. Rassie krap seker kop na die een…..

SjN ·

Maak die Bulle almal Bokke, Steve was toe reg met sy treffer!!

Norries ·

As ek n bokspeler was sou ek ook n b-rated vertoning gee, net om te verhoed dat ek myself nie beseer vir wanneer ek n a-rated vertoning teen die Britse Leeus moet op dis nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.