Bulle sal nie net voorlangs teen WP stoei nie

currie cup logo 2016.jpgOp die oog af lyk dit na ʼn stryd tussen die Blou Bulle se voorspelers en die agterlyn van die Westelike Provinsie in hulle halfeindstryd Saterdag op Loftus (18:00).

Of dit egter so sal wees, is nie so duidelik nie.

Die Streeptruie spog al baie jare met ʼn goeie dog onderpresterende agterlyn maar het nou veral in die Skot Huw Jones op binnesenter iemand wat die wedstryd kan swaai. Hy benodig egter ruimte – iets wat die gevaarfaktor van sy sentermaat Juan de Jongh ook aansienlik verminder.

Cheslin Kolbe bly maar die groot gevaarman van heelagter af, en Robert du Preez is die onsekere faktor na sy wisselvalligheid die afgelope weke waar hy tussen baie goed en power gewissel het.

Die Bulle, aan die ander kant, het wel ʼn baie goeie pak. RG Snyman het in sy eerste 12 Superwedstryde  ʼn meneer geword. Marvin Orie het vanjaar gewys hoe goed hy kan wees. Voeg Jason Jenkins by, en jy weet hoe moeilik dit is om die lynstane teen die Bulle te oorheers.

En hou gerus vir Liso Gqoboka  op loskop dop. Hy skrum goed, is ʼn werkesel in en om die afbreekpunte en ʼn goeie draer van die bal.

Die WP-agttal is egter nie te versmaai nie, en die Bulle sal moet hard werk as hulle wil oorheers.

Maar, soos die Bulle-afrigter Nollis Marais beklemtoon: die Blou Bulle is meer as die  een-dimensionele span wat die WP in die wedstryd verwag.

Die WP behoort van beter te weet. In die eerste ronde het die Bulle die WP stukkend gehardloop, rustyd 24-0 voorgeloop, ses drieë gedruk en 45-26 gewen.

Verwag nietemin ook die gewone hoë skoppe deur die Bulle. Hulle sal goed geplaas moet wees, want die WP gedy op teenaanvalle. Die Bulle se skoppe sal na verwagting egter op die twee korterige vleuels Werner Kok en Leolin Zas en die heelagter Kolbe gevestig wees waar die lang vleuels van die Bulle die voordeel sal hê.

Hulle sal lang skoppe veld-af probeer vermy.

Die senters Burger Odendaal en Dries Swanepoel, met die Jamba Ulengo en Travis Ismaiel aan hulle buitekant, sal die groter bereidwilligheid van die Bulle om te hardloop gewis aanwend. Jones en veral De Jongh is wankelrig op die verdediging, en dit sal deeglik beproef word.

Wie sal wen?

Die Blou Bulle is die gunstelinge. Ingesteldheid, die spring van die bal en die feit dat dit ʼn uitspeelwedstryd is, maak ʼn voorspelling egter  ʼn dwaasheid.

Spanne – 

Blou Bulle

15 Ulrich Beyers, 14 Travis Ismaiel, 13 Dries Swanepoel, 12 Burger Odendaal, 11 Jamba Ulengo, 10 Tian Schoeman, 9 Rudy Paige, 8 Arno Botha (kapt.), 7 Jannes Kirsten, 6 Roelof Smit, 5 Rudolph Snyman, 4 Marvin Orie, 3 Jacobie Adriaanse, 2 Jaco Visagie, 1 Lizo Gqoboka. Bank: 16 Bandise Maku, 17 Martin Dreyer, 18 Pierre Schoeman, 19 Jason Jenkins, 20 Hanro Liebenberg, 21 Ivan van Zyl, 22 Joshua Stander, 23 Bjorn Basson/Nic de Jager.

Westelike Provinsie
15 Cheslin Kolbe, 14 Werner Kok, 13 Juan de Jongh, 12 Huw Jones, 11 Leolin Zas, 10 Robert du Preez, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Nizaam Carr, 7 Kobus van Dyk, 6 Rynhardt Elstadt, 5 Chris van Zyl (kapt.), 4 Jan de Klerk, 3 Wilco Louw, 2 Mbongeni Mbonambi, 1 JC Janse van Rensburg. Bank: 16 Mike Willemse, 17 Alistair Vermaak, 18 JP Smith, 19 JD Schickerling, 20 Stefan Willemse, 21 Jano Vermaak, 22 Johnny Kotze, 23 Scott van Breda.

Afskop: 18:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.