
Chris Smith. Foto: GB Jordaan.
Ja, Chris Smith het al met ’n stelskop of twee in sy loopbaan misluk, maar hy het die afgelope naweek gewys dat hy ongetwyfeld ’n speler vir die groot oomblik is.
Nie net het die 26-jarige Blou Bul-losskakel met sy goedberekende skop ’n sleutelrol in Marco Jansen van Rensburg se drie gespeel nie, maar hy het ook komkommerkoel gebly om die daaropvolgende doelskop oor die dwarslat te jaag.
Die uiteinde van sy heldedade?
Die Pretorianers klop die WP met 22 -20; die eerste keer in 11 jaar wat hulle die Kapenaars op Nuweland ore aansit.

Morné Steyn. Foto: GB Jordaan.
Morné Steyn het vanjaar beslis die horlosie teruggedraai en hy het in die Superrugby Unlocked-reeks die een foutlose vertoning na die ander gelewer; maar wanneer die 36-jarige generaal eendag besluit om sy stewels op te hang, is die losskakeltrui in veilige hande in Pretoria.
Hoewel dit nog vroeg in sy loopbaan is, meen die voormalige Blou Bul-skrumskakel Conrad Breytenbach dat daar ’n blink toekoms op Smith wag.
“Chris was Saterdag briljant. Hy het koelkop gebly en goeie besluite geneem terwyl hy die ouens rondom hom weggestuur het. Daardie doelskop was indrukwekkend en dit het gelyk asof hy dit al honderde kere vantevore gedoen het,” het Breytenbach gesê.
“Morné se ervaring is van onskatbare waarde, maar nes Chris was hy destyds ook ’n losskakel wat ander spelers rondom hom laat speel het – die res van die prentjie word immers deur ervaring ingekleur.”
Marius van Rensburg – die Pumas se bobaas-spanbestuurder – het destyds vir Smith in die Kaap gaan haal om vir die Laevelders te speel.
Die Matie-losskakel het glad nie teleurgestel nie en hy het 131 punte vir die Pumas in hul suksesvolle SuperSport Uitdaagreeks-veldtog van 2018 aangeteken.
“Chris het sommer dadelik ingeskakel en dit het gelyk asof hy al vir jare deel van ons opset was. Hy is ’n wonderlike speler en net so ’n goeie mens. Sy loopbaan is ongetwyfeld op pad na hoër hoogtes en hy is beslis iemand wat eendag by Morné sal kan oorvat,” het Van Rensburg vir Maroela Media gesê.
Die Cheetahs se Chris Massyn het in die Unlocked-reeks teen Smith gespeel, terwyl hulle ook spanmaats vir Maties in die Varsitybeker was.
“Chris begin nou goed in sy rol by die Bulle in te skakel. Daardie laaste skop van die afgelope naweek was hoegenaamd nie maklik nie en hy het dit boonop onder groot druk tussendeur die pale gejaag. Ek dink hy gaan nog groot rugby speel,” het Massyn gesê.
En met ’n mentor soos Steyn kan Smith inderdaad eendag die volgende losskakel-held in Pretoria wees.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
3 Kommentare
Nie net vir die Bulle nie maar ook vir die Bokke,so ander losskakels moet in hulle spore trap.
Ons het beslis ‘n tekort aan goeie losskakels. Ek is bly die ou doen goed.
Ja nee, hierdie laaitjie het die naweek homself bewys. Nuwe blou bloed vir die Bulle!