Bulle se verdediging sleutel tot sege oor die Leeus

Travis Ismaiel druk na die Bulle onderskep het. (Foto GB Jordaan)

Travis Ismaiel druk na die Bulle onderskep het. (Foto GB Jordaan)

Die Blou Bulle het op wat eens Fort Loftus genoem is hulle harte uit geduik, druk op die verdedigende kampioen die Goue Leeus geplaas en Vrydagaand se Curriebekerwedstryd 31-17 gewen.

Dit laat egter die gedagte dat die Leeus voorlangs oorheers het en die Bulle net moes keer.

Allermins. Waar dit régtig tel, in die kontakgebied en by die afbreekpunte, was die Bulle onteenseglik beter daaraan toe. En hulle losvoorspelers het teen die gedugte drietal van die Goue Leeus beter daarvan afgekom – miskien juis deurdat hulle pak as geheel die kontaksituasies gewen het.

ʼn Yslike frustrasie vir die Leeus en natuurlik ook hulle afrigters was die baie ongedwonge foute. Hoeveel keer hulle in kontaksituasies, en ook op die aanval met bal in die hande, besit omgekeer het kan jy skaars glo.

Die Bulle se toenemende bereidwilligheid om die seisoen meer met die bal te hardloop was ook opvallend en meer effektief as die Leeus s’n. Dit dit was veral Jamba Ulengo en Travis Ismaiel wat met hulle meer kanse as gewoonlik indruk gemaak het. En Piet van Zyl speel tans sy beste rugby sedert hy Springbok geword het.

In die skrums het sake redelik gelykop verloop, maar die Bulle het ook híér beter vertoon as wat voorspel is. Hulle lynstaanwerk was ook suiwerder en RG Snyman en Marvin Orie het boonop in die los meer as hulle deel gedoen

Dieselfde kan van die Leeus se twee slotte Lourens Erasmus en Martin Muller gesê word – en die vaskopflank Cyle Brink het deurgaans hard gewerk terwyl Kwagga Smith op die losbal geboer het.

ʼn Mens het die indruk gekry dat die Leeus te veel probeer forseer het. Die aangeë was soms ʼn tikkie oorhaastig, die opbou van fases en aanvalle ongeduldig en die uiteinde was omkeerbesit.

Die telling rustyd was 16-10 in die guns van die wenspan en hulle het in die tweede helfte daarop gebou om slegs ses minute, na die 25ste minuut, voor te loop (10-9).

Die oorwinning het die Bulle tweede op die puntelys geplaas, maar dis eintlik niksseggend.

Hulle het reeds vyf van hulle agt wedstryde gespeel. Met 15 punte na vyf wedstryde is hulle ʼn enkele punt voor die Vrystaat Cheetahs (drie wedstryde) en Griekwas (vier wedstryde) en net twee voor die Leeus wat ook nog net vier wedstryde gespeel het.

Puntemakers –

Blou Bulle (16) 31: drieë: Travis Ismaiel, Marvin Orie, Joshua Stander. Doelskoppe: Tian Schoeman 2. Strafdoele; Schoeman: 4
Goue Leeus (10) 17:  Drieë: Howard Mnisi, Kwagga Smith. Doelskoppe: Marnitz Boshoff 2. Strafdoel: Boshoff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Welgedaan Bulle. Vir die Leeus se afrigters ‘n yslike kopseer want hoeveel kanse om te druk wil ‘n span nog verbrou. Ackermann wonder seker waarom na die lynstaan gesukkel en swak voorry vertoning hy staatmakers soos Mostert en Marx as vakansiegangers aan die Bokspan moet afstaan, terwyl Kriel net die plaasvervangerbank beklee en hy (Ackermann)in ruil vir dit twee beseerde spelers (Combrinck en Redelinghuys)terugkry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.