Bulle skrik maar klop Boland tog ver

boland-logo-cropDie Blou Bulle het die Boland Vrydagmiddag na verwagting goed in Wellington afgeransel, 48-26. Hulle het vyf Curriebeker-punte uit die wedstryd verdien en is steeds op koers vir ʼn halfeind-plek.

Gelukkig oor die vertoning, veral die sukkelende eerste helfte, sal hulle en veral nie hul afrigter Nollis Marais egter nie wees nie.

As die Bulle gedink het dit gaan maklik wees, het hulle nie rekening met hulself gehou nie. Rustyd was die telling ʼn verdiende 12-elk vir die Kavaliers, met die foute wat aan Bulle-kant gewemel het.

Dalk was die skrik groot genoeg en betyds.

Dit sal egter nie reg wees om die Boland van hope krediet te ontsê nie. Hier is ʼn span wat aan’ t ontwikkel is. Met hulle vier drieë het hulle self ʼn bonuspunt verdien.

Tian Schoeman het die eerste bal wat hy gekry het, teen ʼn teenstander vasgeskop en dit het oor sy doodlyn gerol. Sowat 32  minute later was dit hittete of die Boland  het na ʼn soortgelyke fout van Schoeman gedruk. Hy het dit in die laaste tien minute wéér gedoen, ʼn onderskepdrie afgestaan en ʼn afskop oor die doodlyn gesool.

Hy is beter as dit, en dít alleen sal reeds heelwat vir die Bulle tel in moeiliker wedstryde.

Omkeerbesit, swak oordeel met spelers aan die buitekant wat nie gevoer is nie, uitgeë na spelers in swakker posisies en soms sommer swak hanteerwerk het die Bulle se poging om momentum op te bou gefnuik.

Trouens, die Bloues het gelyk na ʼn klomp wat glad nie belanggestel het nie.

Hul skrums was oorheersend, hulle lynstane goed, maar die res …

Die Boland het twee goeie drieë in die eerste helfte gedruk, die eerste deur Theuns Kotze wat na binne gesny het ná sy voorspelers na hoeveel fases nie oor die doellyn kon kom nie. Die tweede was deur die toentertydse Blitsbok Danwel Demas wat ʼn halwe man-oor goed gebruik het.

Die Bulle se eerste drie is deur Ulrich Beyers gedruk wat deurgesny het, en deur Bjorn Basson wat in sy eie helfte onderskep het en net-net nie ingehaal is nie.

♦  Marais moes rustyd seker streng gepraat het, en die manne moes besef het dis nie goed genoeg nie.

Binne tien minute na rustyd was daar tien punte op die telbord. Dit het gelyk of die hekke oop is met die telling op 22-12, maar toe is daar weer foute en onsekerheid. Tian Schoeman se oorslaan-aangee is deur Kotze onderskep vir sy tweede drie  nadat Zandré Kotze net ʼn minuut voor dit ook gaan druk het.

Die Bulle was skielik 26-22 agter en die Boland het sweerlik begin drome droom.

Maar dit was al vir hulle. Die Bulle het daarna nog vier drieë gaan druk, twee van oorstote by die skrums, en het met 48-22 mooi aan hulle punteverskil gebou en met hul sewe drieë darem vyf ligapunte ingeoes.

Maar dit is nie genoeg om teen die ander topspanne te wen nie – en die spelers  weet dit amper so goed soos Marais.

Puntemakers –

Boland (12) 26: Drieë: Theuns Kotze 2, Danwell Demas, Zandré Jordaan. Doelskoppe: Kotze 3.
Blou Bulle (12) 48: Drieë: Ulrich Beyer, Bjorn Basson, Tian Schoeman, Roelof Smit, Hanro Liebenberg 2. Lizo Gqoboko, Doelskoppe: Schoeman 5. Strafdoel: Schoeman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.