Bulle verstewig houvas op punteleer

Twee van die spanne se sterre: Duane Vermeulen (Bulle) en Tiaan Swanepoel (Leeus). Foto: GB Jordaan.

“En hy hardloop en hy hardloop en hy druk ’n drie!” is dikwels die vrolike kommentaar wanneer ’n paar tienjariges rugby in die agterplaas speel.

Gister se Curriebekerstryd tussen die Blou Bulle en die Leeus in ’n bewolkte Pretoria het weliswaar nie soortgelyke kommentaar ontlok nie – dit was eintlik ’n skop- en skrumfees – maar die tuisspan het genoeg gedoen om die wedstryd met 22 – 15 te wen.

Tog was dit die Leeus wat die hardste in die eerste 20 minute se spel gebrul het. Hulle het die gebiedsvoordeel en die skrums oorheers, terwyl die talentvolle Tiaan Swanepoel se skopvoet vir ’n voorsprong van 9 – 0 gesorg het.

Maar hoewel dit ’n rukkie vir die jong Bulle-motor geneem het om op te warm, het hulle steeds vir Duane Vermeulen agter die stuur.

Chris Smith. Foto: GB Jordaan.

Onder die Springbok-hardebaard se toesig het die tuisspan momentum begin opbou – Chris Smith het toegesien dat hulle ’n rustydvoorsprong van 12 – 9 geniet het, terwyl Embrose Papier in die tweede helfte die wedstryd se enigste drie gedruk het.

Die Johannesburgers het egter ’n kans om ’n gelykopuitslag af te dwing deur hul vingers laat glip toe ’n lynstaangooi op die Bulle se doellyn skeefgeloop het.

Die uitslag beteken dat die Pretorianers hul houvas op die punteleer verstewig het en dat die toernooi se twee halfeindstryde onderskeidelik in Pretoria en in Kaapstad beslis sal word.

  • Puntemakers:

Blou Bulle: Drie: Embrose Papier. Doelskop: Chris Smith. Strafskoppe: Smith (4), Morné Steyn.

Leeus: Strafskoppe: Tiaan Swanepoel (5).

  • Punteleer:
  1. Blou Bulle 39 punte
  2. WP 37 punte
  3. Haaie 35 punte
  4. Leeus 34 punte
  5. Cheetahs 27 punte
  6. Pumas 12 punte
  7. Griekwas 7 punte
  • Die naweek se bepalings:

Saterdag om 16:30: Griekwas teen Cheetahs

Sondag om 16:00: Blou Bulle teen Pumas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.