Bulletjies druk drieë met groot glimlagte

Die was ’n miernes van aktiwiteite by Midstream Ridge Laerskool se Bulletjie-dag. Stalletjies en die Bulls se gelukbringer was ook te siene.

Stalletjies, flitsende kameras, talentvolle spelertjies, ma’s en pa’s wat tot die oortreffende trap opgewonde is; en net suiwer, ongekompliseerde pret.

Nou dít, dames en here, is die resep wat Bulletjie-rugby lekker maak. En al druk ses- tot agtjarige spelers reeds sedert 1993 (met tye) “drieë” onder die verkeerde span se pale, laat dié resep mens eerder aan een van Jamie Oliver s’n dink: dit werk net eenvoudig.

Die afgelope naweek by Midstream Ridge Laerskool naby Centurion het die altesaam 40 skole se 246 spanne gesorg dat 3 034 spelers kans gekry het om hul vaardighede op dié spogskool se Bulletjie-rugbyvelde uit te stal.

Aan die stuur van dié groot en suksesvolle dag se organisasiewerk was Midstream Ridge se sportghoeroe, Riaan Langenhoven.

“Ek sou sê die grootste uitdaging wat só ’n dag bied, is beslis die samestelling van die program. Elke span moet twee keer speelkans kry en mens moet probeer om die skole by alle ouderdomsgroepe min of meer op dieselfde tyd te laat speel,” het Langenhoven gesê.

Een van die redes vir Bulletjie-rugby se sukses is die feit dat spelers se niekontakvaardighede opgeskerp word.

RG Snyman is een van die huidige Springbok- en Bulls-spelers wat ook Bulletjie-rugby gespeel het. Foto: Facebook.

“Dan is beserings minimaal juis omdat hulle nie op dié vlak kontakrugby speel nie, maar eerder RIP-rugby.”

Aan elke speler word daar ’n paar stukke materiaal vasgemaak en verdedigers moet dan – in plaas van têkkel – die linte losruk.

“Die RIP-formaat verbeter alle aspekte van ’n jong speler se spel – hul hardloop- en balvaardighede, hand-oog-koördinasie, besluitneming op die veld en die samespel tussen spelers. Groot en klein spelers kry só ook die geleentheid om deel te wees van die spel.”

Soms word die ouers lángs die veld meer opgewonde as die kinders óp die veld …

“Daar is kere dat die ma’s opgewonde raak en die pa’s wil wys wie die baas van die plaas is, maar gelukkig gebeur dit nie baie nie,” skerts Langenhoven.

  • Die Loftus Bulletjiedag word op 8 Junie 2019 aangebied, terwyl die volgende Midstream Ridge-dag volgende jaar op 10 Mei sal plaasvind.
  • Daar word 6 200 Bulletjies op Loftus verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rika ·

My seuntjie was ook saterdag daar, hulle almal het dit baie geniet, en die medaljes aan die einde is vir die klein bulletjies omtrent die hoogtepunt. Midstream het werklik n soveel moeite gedoen met hulle bulletjie dag, en elke ouer en kind het al die verrigtinge vreeslik baie geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.