Bulls-bankstut drie weke lank geskors

ʼn Plaasvervanger-stut van die Bulls is drie weke lank geskors na ʼn gevaarlike duikslag in Vrydag se Superrugby-wedstryd teen die Chiefs in Hamilton, Nieu-Seeland.

Luidens ʼn verklaring wat Sanzaar in Sydney uitgereik het, het Conraad van Vuuren skuld erken dat hy Damian McKenzie, die heelagter van die Chiefs, met ʼn gevaarlike swaaiende arm probeer stuit het.

Sy straf duur tot 14 April en hy sal eers daarna weer mag speel.

Die Chiefs het die kragmeting met 41-28 gewen.

Sjoehei Koebo, die Japanse skeidsregter wat die wedstryd beheer het, wou Van Vuuren daar en dan met ʼn rooi kaart straf.

Die TV-skeidsregter, Shane McDermott, het hom egter omgehaal om dit tot ʼn geel kaart te versag.

Die wedstrydkommissaris was egter nie daarmee gediend nie, en het Van Vuuren uitgewys om voor die vuilspelkomitee verantwoording te doen.

Hy sal eers weer vir die Bulls se wedstryd op Loftus Versfeld teen die Rebels oorweeg kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Avokado ·

Amateur! Hy het homself en sy span in die steek gelaat. Dit was glad nie nodig nie.

Joe Hall ·

Bulle skraap die bodem indien hulle voortgaan om spelers met so ‘n ingesteldheid gebruik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.