Kom ons wees eerlik met mekaar: Goeie verdediging op sy eie gaan waarskynlik nie vir jou die Superrugby-titel besorg nie; jy het ’n bietjie aanvallende flair ook nodig.
Dit is amper soos daardie liedjie van Bok van Blerk en Robbie Wessels oor die vinkel en die koljander; die een hand was inderdaad die ander.
Maar hoewel die Bulls gisteraand op Loftus Versfeld soms oor genoeg aanvalsvinkel beskik het, was daardie broodnodige verdedigingskoljander soms nêrens in hul speseryrakkie te siene nie.
Die Jaguares het vir die Pretorianers se vierde agtereenvolgende nederlaag gesorg toe hulle die tuisspan met 39-24 geklop het.
Tog het dinge aanvanklik heel rooskleurig vir die Bulls gelyk.
Marco van Staden het sy krag gewys, terwyl Warrick Gelant ’n drie in sy 50ste wedstryd gedruk het. Dan het Morné Steyn met ’n paar moeilike kantlyn-stelskoppe geslaag en ná 36 minute spel het die Bulls met 14-10 voorgeloop.
’n Gebrek aan konsentrasie sal egter enige span kelder en die Bulls het skielik soos ’n goudvissie in die rugbyklas begin oplet.
Die Argentyne het in die bestek van drie minute twee drieë gedruk om in ’n japtrap ’n rustydvoorsprong van 24-14 te geniet.
Om dié prestasie in perspektief te plaas: Dit sou waarskynlik vir die meeste van ons langer geneem het om “Guido Petti Pagadizaval” korrek uit te spreek as wat dit vir die Argentyne gevat het om twee drieë te druk.
’n Briljante Rosko Specman het egter sy sewesvaardighede net ná rustyd uitgestal om Cornal Hendricks oor die doellyn te stuur, maar toe Johnny Kotze later sy geel kaart vir ’n gevaarlike duikslag gekry het, was die skrif aan die muur vir die Pretorianers.
Om weg van Loftus te bly gaan die Bulls tans nie baie help nie. Hulle het nou juis al die ondersteuning nodig wat hulle kan kry.
- Puntemakers:
Jaguarers: Drieë: Emiliano Boffelli (2), Rodrigo Brunni, Guido Petti Pagadizaval, Matias Moroni. Doelskoppe: Joaquin Diaz Bonilla (3). Strafskoppe: Bonilla (2).
Bulls: Drieë: Marco van Staden, Warrick Gelant, Cornal Hendricks. Doelskoppe: Morné Steyn (3). Strafskop: Steyn.
- Hoe die gesamentlike Superrugby-punteleer ná die vyfde ronde lyk:
- Stormers 17 punte
- Crusaders 14 punte
- Brumbies 13 punte
- Sharks 16 punte
- Jaguares 15 punte
- Hurricanes 13 punte
- Chiefs 13 punte
- Blues 13 punte
- Rebels 8 punte
- Reds 7 punte
- Lions 5 punte
- Waratahs 5 punte
- Highlanders 5 punte
- Sunwolves 4 punte
- Bulls 1 punt
Die bulle vaar darrem baie goed met geel kaarte.
As die span volhou met die alewige “boxkicks” om die bal net vir die opponente te gee kan hulle vergeet van wen.
En natuurlik die dissipline. Swak. Swak.
Miskien nou reeds die tyd om die hasbeens uit te gooi en rerig te begin bou met nuwe jong spelers.
En vervang sommer die verbeeldinglose afrigters ook.
Dalk moet hulle ook n seisoen in pro 14 rugby gaan speel
Swak, laerskool rugby is meer aansienliker om te kyk as die bulle se spel tans, begin by die afrigters, slaan hul met die tjekboek soos oorlede oom Louis sou gese het.