Bulls dis gevriesde spel in koue op

Die Bulls het 31 – 7 teen Lyon verloor. Foto: Oliver Chassignole/AFP.

Die Bulls het met een van hul swakste vertonings van die afgelope paar jaar vorendag gekom toe Lyon hulle met 31 – 7 in ʼn Kampioenebeker-wedstryd oorrompel het.

Toegegee, vir spelers wat daaraan gewoond is om in sonnige Suid-Afrika rugby te speel, was die bibberweer inderdaad iets om aan gewoond te raak.

Die toeskouers het soos die Michelin-man in hul dik baadjies en wolmusse langs die veld gelyk, terwyl stoom soos rook uit ʼn wafferse rookmasjien getrek het elke keer as die voorspelers naderstaan vir ʼn skrum.

In die tweede helfte het dit ook weer begin sneeu.

Maar net soos oom Jannie – daar af in die straat – se ou skedonk sukkel om soggens in die wintermaande aan die gang te kom, so het die Bulls ook gisteraand gesukkel.

Doellose skoppe was aan die orde van die dag, terwyl die Fransmanne die Bulls se skrum omtrent laat les opsê het. Die Pretorianers het al vantevore in die skrumsituasie gesukkel, maar hulle het omtrent net een rat teen Lyon geken – en dit was tru-rat.

Dan het moet daar indringend na Johan Goosen se spel gekyk word.

Wanneer die losskakel op alle suiers vuur, is hy ongetwyfeld een van die beste spelers ter wêreld, maar sedert hy sy terugkeer van ʼn besering gemaak het, sukkel hy met sy spelpeil en selfvertroue.

Chris Smith is tans ʼn beter keuse om die nommertientrui te dra.

Kurt-Lee Arendse het in die 42ste minuut die Bulls se eerste drie gedruk toe hy die spel perfek gelees het om die bal te onderskep.

Selfs in die snerpende koue het hy te veel spoed en hy het maklik vir die Lyon-verdedigers weggeskaats.

Tog verdien Lyon ʼn klop op die skouer vir hul begeesterde spel. Hulle was honger om te wen en ʼn mens kon dit sien.

Die Bulls is steeds sesde op Groep A van die Kampioenebeker-punteleer, maar hulle sal waarskynlik teen Toulouse of La Rochelle in die uitspeelwedstryd moet speel.

  • Puntemakers:

Lyon: Drieë: Guillaume Marchand (2), Jean-Marc Doussain en Leo Berdeu. Doelskoppe: Berdeu (4). Strafskop: Berdeu.

Bulls: Drie: Kurt-Lee Arendse. Doelskop: Johan Goosen.

  • Kampioenebeker-punteleer (Groep A):
  1. Leinster: 15 punte ná drie wedstryde
  2. Sharks: 14 punte ná drie wedstryde
  3. Saracens: 14 punte ná drie wedstryde
  4. Exeter: 11 punte ná drie wedstryde
  5. Edinburgh: 11 punte ná drie wedstryde
  6. Bulls: 10 punte ná vier wedstryde
  7. Lyon: 8 punte ná vier wedstryde
  8. Harlequins: 7 punte ná drie wedstryde
  9. Racing 92: 5 punte ná drie wedstryde
  10. Gloucester: 5 punte ná drie wedstryde
  11. Bordeaux: 2 punte ná drie wedstryde
  12. Castres: geen punte ná drie wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.