Bulls dop Sharks-toets

Lukhanyo Am is as die speler van die wedstryd aangewys. Foto: Twitter.

Jake White het vroeër die week gesê dat hy graag sy Bulls-span teen die sterbelaaide Sharks wil toets.

Met gesoute spelers soos Makazole Mapimpi, Ruan Pienaar, Bongi Mbonambi en Siya Kolisi in die Durbaniete se vyftiental kon dit inderdaad seker met ’n internasionale wedstryd vir die Pretorianers vergelyk word.

En hulle het juis vroeër baie goed teen ’n Suid-Afrikaanse A-span vertoon, of hoe?

Maar as gisteraand se wedstryd met ’n skooleksamen vergelyk kan word – met die Sharks die vraestel, die Bulls wat die rol van die leerlinge vertolk en White hul onderwyser – moes die ervare Bulls-afrigter in afgryse toegekyk het hoe sy span worstel om die vrae te beantwoord.

En ná 80 minute se gesukkel het hulle ongetwyfeld minder as 40% gekry.

Die Sharks het die septer in die skrums geswaai met Bongi Mbonambi en Thomas du Toit wat die lewe vir die Pretorianers nag gemaak het.

Die gesukkel het later tot ’n crescendo opgebou en Lizo Gqoboka is met ’n geelkaart van die veld gejaag.

Verder het die Pretorianers – wat met soveel selfvertroue in vorige Suid-Afrikaanse reekse gespeel het – maar op die aanval gesukkel en hulle het met tye bra doelloos en planloos gelyk.

’n Stand van sake wat vir White grensloos moet irriteer.

Ná ’n morsige eerste helfte (’n mens kon sien dat die spanne lanklaas rugby gespeel het) het die Sharks skielik met Lukhanyo Am se onderskepdrie vlamgevat. Voeg daarby hul skrumoorheersing en die Pretorianers se dissipline wat hul met tye in die steek gelaat het, en daar was net een wenner in Durban.

Nadat die Bulls vroeër gesorg het dat hul trofeekas uit sy nate begin bars het, lyk dit of die span ’n bietjie van sy mojo (soos wat Austin Powers sou sê) sedert die begin van die Verenigde Rugbykampioenskap begin verloor het.

En hulle sal dit so gou as moontlik wil terugkry.

  • Puntemakers:

Sharks (30): Drieë: Lukhanyo Am en Kerron van Vuuren. Doelskop: Boeta Chamberlain. Strafskoppe: Chamberlain (6).

Bulls (16): Drie: David Kriel. Doelskop: Morné Steyn. Strafskoppe: Steyn (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus ·

‘n Onderskepdrie ruk die moraal se hele wese uit ‘n span uit. Spanne sukkel gewoonlik om terug te kom na onderskepdrie. Rugby is gesond as daar nie net heeltyd een gunsteling is nie.

JohanR ·

Dankie Sharks. Wag al ‘n rukkie om die arrogante Bulle en hulle afrigter sien aarde toe kom! Het gedink die Bulle het al lankal al die beste spelers in SA en oorsee gekoop, maar miskien moet hulle sien of hulle nie nou ‘n paar Sharks kan aanskaf nie?

SjN ·

Geluk Sharks, was beide kante maar onaanskoulik, Bulle sal weer opstaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.