Bulls druk tans minste drieë in Superrugby

(Foto: GB Jordaan)

Kom ons wees eerlik met mekaar: Dit gaan tans nie té goed in die Bulls-kamp nie.

Die Pretorianers se nederlaag van 39 – 24 die afgelope naweek teen die Jaguares op Loftus Versfeld was die vierde agtereenvolgende keer wat hulle in die stof gebyt het. Dit is hul swakste begin tot die reeks sedert 2002, toe hulle al 11 van hul wedstryde verloor het.

Ná vanjaar se handvol kragmetings het die Bulls net een ligapunt agter hul naam en hulle beklee tans die 15de plek op die gesamentlike punteleer.

Die super hoogtes van tien jaar gelede is reeds lank vergete.

Tog skrum hulle vanjaar steeds baie goed. Die voorry van Trevor Nyakane en Lizo Gqoboka is ysters in die skrumsituasie, terwyl die vlieënde Rosko Specman ’n gemiddeld van 10,3 meter vorder elke keer as hy die bal in die hand het. Selfs Morné Steyn spog met 38 punte – die derde meeste in die reeks.

Maar dit is die afronding en die dissipline wat die Pretorianers tans in die steek laat.

Hulle kon nog net vyf drieë in hul vier wedstryde druk; die minste van ál die spanne in die reeks, terwyl ook die minste verdedigers (73) van almal kon klop .

Morné Steyn vier sy drie in een van die wedstryde. Foto: GB Jordaan.

Met Duane Vermeulen wat sy terugkeer na Loftus maak en die moontlikheid dat Jesse Kriel en Marcel Coetzee ook die Bulls-trui kan aantrek, is daar darem soos ’n Joshua na die Reën-treffer weer lig op die horison.

Daar moet egter dringend iets gedoen word voordat die heldedade van Bryan Habana, Victor Matfield, Bakkies Botha, Fourie du Preez en Kie. net soos spookstories rondom die kampvuur in die donker, leë gange van Loftus Versfeld gefluister word.

Die Bulls speel hierdie naweek tuis teen die Highlanders. Die oorsese toer wag nog op hulle.

Só lyk die statistieke onder die Suid-Afrikaanse spanne:

  • Suid-Afrikaanse punteleer:
  1. Stormers: 17 punte
  2. Sharks: 16 punte
  3. Jaguares 15 punte
  4. Lions 5 punte
  5. Bulls 1 punt
  • Meeste drieë:
  1. Sharks: 19 drieë
  2. Stormers: 14 drieë
  3. Lions: 11 drieë
  4. Bulls: 5 drieë
  • Meeste verdedigers geklop:
  1. Sharks: 121 verdedigers
  2. Lions: 86 verdedigers
  3. Stormers: 84 verdedigers
  4. Bulls: 73 verdedigers
  • Suksesvolle duikslae uitgevoer:
  1. Sharks: 84,6%
  2. Bulls: 82, 8%
  3. Stormers: 81,7%
  4. Lions: 80,7%
  • Geel kaarte ontvang:
  1. Bulls en Sharks: drie elk
  2. Lions en Stormers: een elk
  • Skrums gewen:
  1. Stormers: 100%
  2. Bulls: 94%
  3. Lions: 78%
  4. Sharks: 75%
  • Lynstane gewen:
  1. Lions: 88,4%
  2. Stormers: 85,5%
  3. Bulls: 82%
  4. Sharks: 76,2%

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stefan ·

Die Super Rugby beplanning, spankeuses en spelpatroon blyk ver bo Pote se vlak te wees.
Ek dink hy moet maar net Jammer sê en bedank

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.