Bulls en Blues speel gelykop

Die Blues en Bulls het gelykop in Nieu-Seeland gespeel. Foto: Blues-Facebook.

“Bulls en Blues” klink soos ’n kuierplek waar iemand soos ’n Bruce Springsteen of ’n Piet Botha sou optree. En vanoggend het die rugbyspelers van die Bulls- en Blues-span hoegenaamd nie vir dié rock-sangers teruggestaan nie toe hulle met ’n hardebaard-vertoning van hul eie vorendag gekom het. Die eindtelling was 22-elk.

Ja, dit was nou nie die aanskoulikste wedstryd nie, al was Cornal Hendricks se skitterende skop-en-opraap-drie een van die uitsonderings.

Die aanvanklike reëntoestande het gesorg dat die eerste helfte naderhand in ’n heen-en-weer geskoppery ontaard het en die Blues het ’n rustydvoorsprong van 10-8 geniet.

In die tweede helfte het dinge egter vlamgevat toe die tuisspan se Scott Scrafton oor die Bulls se doellyn gestoomroller het.

Hendricks het egter kort daarna met sy bobaas-drie geantwoord, net om toe te kyk hoe Akira Ioane bo-oor Ivan van Zyl hardloop om die Blues se derde drie te druk.

Met tien minute se speeltyd op die horlosie oor, het die tuisspan met 22-15 voorgeloop.

“Ons gaan nou score boys!” kon ʼn mens sekondes later duidelik oor die televisie hoor.

Dié gevleuelde woorde sou waarskynlik nie voldoende gewees het om die spreker na die volgende ronde van die ATKV-redenaarskompetisie te stuur nie, maar dit het duidelik die Bulls tot groter hoogtes aangespoor.

Skaars vier minute later het Manie Libbok die Blues-verdediging aan die slaap gevang vir ’n baie belangrike drie. Hy het sy eie drie verdoel en skielik was die telling weer gelykop.

Die Blues se Harry Plummer het daarna kans gehad om sy span te laat wen, maar hy het die stelskop verbrou.

Hoewel ’n sege baie beter sou gesmaak het, sal dié uitslag waarskynlik vir Pote Human effens laat glimlag. Die Bulls het immers sonder Handré Pollard en Duane Vermeulen gespeel, terwyl hulle laas in 2013 ’n wedstryd in Nieu-Seeland kon wen.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Hanro Liebenberg, Cornal Hendricks en Manie Libbok. Doelskoppe: Libbok (2). Strafskop: Libbok.

Blues: Drieë: Ofa Tuungafasi, Scott Scrafton, Akira Ioane. Doelskoppe: Harry Plummer (2). Strafskop: Plummer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Smirre ·

Definetief kolla hy word so hoog aangeslaan dat ons wag nog steeds vir sy R 20 m per seisoen offer van oorsese klubs. Hy is net nog ‘n kwota speler wat soos omtrent almal van hulle maar hier in die derde ranges spanne sal rondtrap dalk ‘n game of twee vir die bontebokke en dis dit.

Ai ·

Kolla bekommer jou eerder oor jou 3/4 Werfspringbokspan met min of amper geen impak op die Super 15 nie! Pollard hoef nie jou grootse kopseer te wees nie tensy jy natuurlik mense van jou verleentheid van hoe laag jul op die ranglys is probeer weglei…Oeps nes die DA sukkel die suur poepetjies ag ek meen windtjies van die Suid see ook maar nes hul rugby span!

Frans C ·

Wat opmerklik was dat die Bulle beter as die tuisspan by die omstandighede aangepas het.Die Blues het by hul patroon probeer hou maar dikwels die bal verloor en van hul agterspelers is min gesien.
Trouens dit was hul voorspelers wat drieë gedruk terwyl 2 van die Bulle se drieë deur agterspelers aangeteken is.Dit was dus vir my onverstaanbaar dat die Blues nie kantlyn
toegeskop het vir ‘n dryfmaal ,maar dit in moeilike omstandighede dit aan hul losskakel oorgelaat het om die wenpunte aan te teken.

Henry ·

Riaan
Sal dit nie fantasties wees as ons nog enetjie by die ander Superrugby bekers kan voeg nie. Om nie eers van Oom Currie se bekers te praaat nie!
Huffel bekers het jou span oor die afgelope 50 jaar gewen?

Riaan ·

Swartwolf my Crusaders het kom al 9 keer gewen en jou spannetjie?

Henry ·

Is ekke wat die vraag gevra het ou grote.
Jy het klaarblyklik nie besef dat ons van SA spanne praat nie.
Min siele in hierdie land voel veel meer as ‘n veer vir Kroesyders of die nat land met die lang wolk.
O ja. Lyk asof jou spannetjie ‘n lelike wind teen die Tjiefs gesluk het.
:-)

Riaan ·

Henry, 53 punte op die log tans, waar le jou span, en hoeveel keer het hulle al die beker gewen OU bul.

Swartwolf ·

Nee kyk Riaan die kruisvaders het hom nou redelik baie kere gewen so geluk kry vir jou nog ‘n tatoe daar op jou linkerboud en sterkte vorentoe ek bly maar ‘n bul….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.