Bulls en Lions op koers, maar nog harde werk lê voor

Jesse Kriel het Saterdag weer skerp en vol selfvertroue gelyk. (Foto GB Jordaan)

Die Bulls het voortgebou op die oorwinning van die Lions vroeër die middag en het op Loftus slegs die derde sege deur ʼn Suid-Afrikaanse span in die laaste 16 wedstryde teen Nieu-Seelandse teenstand behaal.

Dit was ʼn “nuwe” Bulls-span wat die Hurricanes met 21-19 geklop, en ondanks steeds heelwat foute en onsekerhede die nuwe patroon van John Mitchel omarm het om die 2016-kampioenspan in die Superreeks hok te slaan.

Die vaart waarmee hulle begin het en die soms, altans vir die ondersteuners, gewaagde aangeë, die wyse waarop spanmaats in  die gapings ingehardloop het om bresse te slaan en die ondersteuning dui ongetwyfeld op iets wat in Pretoria aan’ t gebeur is.

Slotte wat aan die hardloop gaan, Jesse Kriel wat na ʼn ander senter as onder Allister Coetzee lyk, ʼn pak wat inklim en ʼn skrum wat sy man staan is getuienis van die geloof wat die spelers in John Mitchell se afrigting en speelpatroon het.

Die Bulls het meer as hulle aandeel besit en gebiedsvoordeel gehad, die bal meer kere en verder as die Hurricanes gedra, minder duikslae moes uitvoer en het die afbreekpunte oorheers. Gewis ʼn goeie begin teen ʼn gehaltespan.

Soos  by al 14 die spanne wat die naweek in aksie was, is daar natuurlik nog heelwat om aan te werk. In aggenome hoe die Bulls verlede jaar gesukkel het, is hierdie nietemin ʼn verfrissende ommeswaai wat veel vir die toekoms beloof.

Puntemakers –

Bulls (16) 21: Drieë: Johnny Kotze, Lood de Jager, Pierre Schoeman.  Strafdoele: Handré Pollard 2.
Hurricanes (12) 19: Drieë: Ricky Riccitelli, Wes Goosen, Beauden Barrett.   Doelskoppe:  Ihaia West 2:

Lions goed ná omdraaityd, maar sal moet beter

Die Lions is nog nie wat hulle moet wees nie, maar op pad soontoe, soos die goeie tweede helfte aangedui het. Maar teen sterker sal hulle eenvoudig móét beter.

En by die Jaguares het weinig sedert verlede jaar verander.

Dit is die algemene waarneming oor die Superwedstryd Saterdag op Ellispark wat met 47-27 deur die Lions gewen is.

Aphiwe Dyantyi toe hy sy merk in die Varsitybekerreeks vir UJ gemaak het. (Foto varsity cup)

ʼn Mens kan nie hierdie wedstryd noem sonder om na die skitterspel van die jong vleuel Aphiwe Dyantyi te verwys nie. Twee pragtige, opwindende drieë met vaart en voetwerk, ʼn skitterende vang uit die lug op volle vaart, goeie werkywer oor die hele veld, pragtige oordeel op die aanval …

ʼn Mens moet nie te vroeg praat nie, en jy wil hom ook onder druk en op die verdediging sien, maar met bal in die hand is sy vaart en ook vinnige voete iets wat nog heelwat teenstanders en spanne gaan laat bontstaan.

♦  Die Jaguares is nie minder nie as 12 keer gestraf en het boonop ʼn paar vrygespring oor die Lions voordeel gekry het; en die besoekers het ook ʼn strafdrie en twee geel kaarte teen hulle gekry.

Hulle het vroeg-vroeg ʼn pragtige drie gaan druk, was 10-0 voor en is toe eers in die 71ste minuut weer oor die doellyn ná ʼn Lions-fout. Nog ʼn drie, ook meer oor die Lions se glipse, is ook daarna gedruk.

Die Jaguares gaan nog ʼn span of twee skrikmaak, maar dan sal hulle ingesteldheid en dissipline skielik en drasties moet verander.

♦  Die Lions soek nog struktuur, hulle hantering was nie deurgaans suiwer genoeg nie, en teen ʼn sterker span sou dit hulle Saterdag, veral in die eerste helfte, berou het. Maar aan die ander kant, teen ʼn sterker span het hulle moontlik nie so losserig gespeel nie!

Hulle het die Argentyne stukkend geskrum, hoewel die skrums die hele tyd gelol het en heelwat speeltyd opgevreet het. En die Lions se lynstane is nog nie wat dit moet wees nie.

Puntemakers –

Lions (19) 47: Drieë: Aphiwe Dyantyi 2, strafdrie, Andries Coetzee, Sylvian Mahuza, Rohan Janse van Rensburg,  Warren Whiteley. Doelskoppe: Elton Jantjies 5.
Jaguares (10 ) 27: Drieë: Emeliano Boffelli, Bautista Delguy 2. Doelskoppe: Nicol Sánchez 3. Strafdoele: Boffelli

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans C ·

Dit was ‘n goeie vertoning van die Bulle.Hoop dat hul daarop kan voort bou.Sou egter nie te gou opgewonde raak nie

.Die Hurricanes het 17 spelers verloor waarvan een afgetree het en 16 ander na ander spanne is.
Hulle het wel 13 ander spelers van elders bygekry,maar hul sal soos enige span met baie
veranderinge sukkel om weer hul ritme en patroon terug te kry.

Die Lions mis vir Kriel en Ackerman en maak te veel foute om werklik weereens ‘n aanspraakmaker op die titel te wees.Sonder om swartgallig te raak is dit nie omdat ons spanne
gedurig veranderinge ondergaan en elke keer feitlik van vooraf spanne moet opbou?

Pelser ·

Bulle het ook baie spelers verloor.. so ek kan nie jou stelling insien nie.
Jacobie Adriaanse (Lions)

Arno Botha (London Irish)

Renaldo Bothma (Harlequins)

Martin Dryer (Kings)

Kefentse Mahlo (released)

Sibahle Maxwane (Cheetahs)
Luther Obi (Cheetahs)

Rudy Paige (dropped)
Jacques Potgieter (sabbatical)
Marnus Schoeman (Lions)

Tian Schoeman (Bordeaux)

Jan Serfontein (Montpellier)

Piet van Zyl (London Irish)


die hurricanes het nog steeds n sterk span gehad. omtrent dieselfde agterlyn as laasjaar.

Frans C ·

Jy staaf nou met my standpunt en dit is dat spanne wat groot veranderings ondergaan, sukkel om aan die gang te kom en eers ‘n paar seisoene moet saamspeel, om werklik aanspraakmakers op die titel te word.

Daarom is die huidige Curriebekerkampioen ook nog ‘n span in wording.

Riaan ·

Die Bulls het het darm een game sover gewen maar volgens die supporters wen hulle nou al weer die beker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.