Bulls gaan Coetzee teen Stormers loslaat

Marcell Coetzee. Foto: Marco Longari/AFP.

Uiteindelik!

Marcell Coetzee gaan sy buiging vir die Bulls maak wanneer die Pretorianers teen die Stormers op Loftus Versfeld speel. Die Springbok-losvoorspeler sal ’n opwindende kombinasie met Duane Vermeulen en Elrigh Louw vorm.

Coetzee het vir die afgelope paar seisoene skitterrugby vir Ulster in Ierland gespeel en Dan McFarland (afrigter) het ’n keer gesê dat die 30-jarige speler beslis weer vir die Springbokke kan uitdraf.

“Hy is lief vir Suid-Afrika. As dit nie vir ’n ontydige besering was nie, is ek seker dat hy ook met ’n goue Wêreldbeker-medalje sou gespog het. Hy verdien ’n kans en met die meeste Suid-Afrikaanse spelers wat nie veel wedstrydtyd agter die blad het nie, sal hy van onskatbare waarde wees,” het McFarland destyds gesê.

Coetzee het ook erken dat hy graag teen die Britse en Ierse Leeus wil speel.

“Om teen die Leeus te speel is beslis my langtermyndoelwit. Dit sal so lekker wees as ek dit kan doen,” het hy in 2019 gesê.

Hy sal egter eers moet probeer om die Bulls weer op die wenpad te kry nadat hulle in hul vorige wedstryd teen die Lions vasgeval het.

Saam met Coetzee is Gio Aplon en Ivan van Zyl ook weer terug in Jake White se wedstrydgroep.

Intussen het die Stormers-breier, John Dobson, vir Rosko Specman op regtervleuel gekies, terwyl Tim Swiel op losskakel sal begin.

  • Die wedstryd begin môre (Vrydag) om 19:00 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls: David Kriel (heelagter), Madosh Tambwe (regtervleuel), Marco Jansen van Vuren (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), Stravino Jacobs (linkervleuel), Morné Steyn (losskakel), Ivan van Zyl (skrumskakel), Duane Vermeulen (agsteman en kaptein), Elrigh Louw (flank), Marcell Coetzee (flank), Ruan Nortjé (slot), Walt Steenkamp (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Schalk Erasmus, Jacques van Rooyen, Trevor Nyakane, Janko Swanepoel, Marco van Staden, Zak Burger, Chris Smith en Gio Aplon.

Stormers: Damian Willemse (heelagter), Rosko Specman (regtervleuel), Ruhan Nel (buitesenter), Rikus Pretorius (binnesenter), Edwill van der Merwe (linkervleuel), Tim Swiel (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Evan Roos (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Willie Engelbrecht (flank), Marvin Orie (slot), David Meihuizen (slot), Neethling Fouché (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Steven Kitshoff (kaptein en stut). Plaasvervangers: André-Hugo Venter, Ali Vermaak, Frans Malherbe, Ernst van Rhyn, Marcel Theunissen, Godlen Masimla, Dan du Plessis, Sergeal Petersen, Lee-Marvin Mazibuko en Juarno Augustus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.