Bulls gaan Kaap toe om te wen

Chris Smith laat waai met die regtervoet. Foto: GB Jordaan.

Die Bulls-span wat môreaand in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Stormers speel, het een doel voor oë – hulle gaan speel om te wen.

Met die vertoonkas op Loftus Versfeld wat reeds uit sy nate bars, sal een bykomende trofee mos nie enige skade doen nie, of hoe?

Ná ’n stadige aanloop tot die reeks het die Pretorianers al beter begin speel om met die amperse perfekte wedstryd teen Leinster in die halfeindstryd vorendag te kom.

Die oorwinning van 27 – 26 in Dublin word as een van die Bulls se heel beste nóg beskryf, maar ’n kragvertoning in Kaapstad sal ongetwyfeld die kersie op die koek wees.

Ja, daar is diegene wat meen dat Marcell Coetzee en kie reeds hul gô teen Leinster uitgespeel het en dat ’n soortgelyke kragvertoning teen die Stormers ’n onbegonne taak is.

Maar die vooruitsig van nóg ’n beker is die wortel voor die Bulls se neus en Jake White sal oorgehaal wees om die daad by die woord te voeg.

“Dit is ’n voorreg om deel van die Bulls-opset te wees en ons wil weer een van die sterkste unies in wêreldrugby word. Ek is nog altyd dieselfde persoon; ek wíl wen,” het die uitgeslape afrigter in 2020 gesê toe hy as die Pretorianers se direkteur van rugby aangewys is.

Daar word reën vir die Kaap voorspel en dit beteken dat goeie taktiese skopwerk van groot waarde kan wees.

In Chris Smith en Morné Steyn het die Bulls twee losskakels wat ’n wedstryd met hul skopwerk kan wen; die Pretorianers het juis ’n foto op sosiale media gedeel waar Smith se skopskoen blink gepoets word.

Ja nee, die Bulls is gereed vir aksie. Tog is die Stormers ’n span teen wie hulle hierdie seisoen sukkel.

Die wedstryd begin môre om 19:30 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls: Kurt-Lee Arendse (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), Cornal Hendricks (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Madosh Tambwe (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Arno Botha (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Ruan Nortjé (slot), Walt Steenkamp (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Bismarck du Plessis, Simphiwe Matanzima, Robert Hunt, Janko Swanepoel, WJ Steenkamp, Embrose Papier, Morné Steyn en David Kriel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anton ·

Dis nou goeie journalistiek. Ek dog hulle kom om te verloor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.