Bulls gly en Sunwolves gedy in Singapoer

Waar is die Bulls wat hierdie seisoen met ʼn vaart weggespring het, en waar is die sukkelende Sunwolves van daardie vroeë rondes?

ʼn Mens kan maar net kopskud en vrae vra oor wat met die Bulls se flink hanteerwerk van vroeër die seisoen gebeur het, selfs al was die hoë humiditeit vir albei spanne ʼn uitdaging; waar die Bulls se  dissipline en ondersteuning heen is; en hoe hul oordeel en verdediging die bloute in verdwyn het.

Die Sunwolves het die Bulls Saterdag in Singapoer met 42-37 geklop, hul tweede oorwinning teen die Bulls en ook hul tweede na mekaar teen Suid-Afrikaanse spanne nadat die Stormers in Mei ook in die Ooste vasgeval het.

Die Sunwolves het ses drieë gedruk en Hayden Park het al ses verdoel; die Bulls vier wat almal deur Handré Pollard verdoel is. Hy het een van die drieë gedruk en ook drie strafdoele oorgeskop.

Dit was die Bulls se 11de opeenvolgende neerlaag in oorsese wedstryde en die derde keer ná mekaar dat hulle in vanjaar se Superreeks pak gekry het.

Die Sunwolves het die oorwinning verdien omdat hulle nie geskroom het om van die talle Bullsfoute af aan te val nie, en dit met goeie ondersteuning en opsies baie doeltreffend gedoen het.

Hulle het veral die optel-en-dryf van die Bulls, wat oorgenoeg besit gehad het, goed geabsorbeer, agterlangs die Bulls se snellers goed gekeer met opskietverdediging wat hulle min spasie gelaat het, en het hoofsaaklik by die afbeekpunte die slag geslaan deur eerste vir die omkeerbal daar aan te kom.

Dít het dikwels tot strafskoppe vir die tuisspan gelei of moontlike belowende bewegings of gunstige posisies in die kiem gesmoor.

Vir drie voormalige Bulls, Gerhard van den Heever, Grant Hattingh en Hencus van Wyk, wat aan Sunwolveskant was en hul oud-spanmaats help begrawe het, is die sege oor die Pretoriase span moontlik ekstra soet.

Puntemakers ‒
Sunwolves (14) 42:
Drieë: Hayden Parker, Keisuke Uchida, Gerhard van den Heever, Willie Britz, Michael Little, Rahboni Warren-Vosayako. Doelskoppe: Parker (6).
Bulls (21) 37: Drieë: Jesse Kriel (2), Handré Pollard, Conraad van Vuuren. Strafdoele: Pollard (3). Doelskoppe: Pollard (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Phil ·

Ek dink dis tyd dat hulle ophou om soos skou perde tekere te gaan met al hulle verskillende kleure rugby skoentjies en daai veskriklike geel truie en begin om te wys hulle is daar om rugby te speel. Loftus sien my nie weer voor hulle wys hul is weer die bulle van ouds wat met trots gespeel het nie. Wonder of die sokker span hul weg wedstryde met blou truie speel…….

Steedsnbul ·

Ek was die enigste ou by die werk en in my vriendekring wat bekommerd was oor die aanstelling van nog n Lion as afrigter. So waar is dié wonderlike afrigter nou, manne?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.