Bulls is vasberade vir sukses

Foto: GB Jordaan.

Jake White het ’n sterk span vir Saterdag se Reënboogbeker-eindstryd teen Benetton in Italië gekies. Die Pretorianers is weliswaar sonder ’n paar sterre – onder wie Duane Vermeulen en Morné Steyn – vir die kragmeting, maar Marcell Coetzee en Kie. kan hul skoene met gemak volstaan.

Die Bulls spog met ’n lekker gevaarlike agterlyn met Madosh Tambwe en Cornal Hendricks wat die afgelope paar wedstryde met hul spelpeil beïndruk het.

“Dit is ’n groot voorreg om deel van hierdie geskiedkundige kragmeting te wees, maar ons moet onthou waarom ons hier is: Om die beker terug na Suid-Afrika te neem,” het Jake White (afrigter) gesê.

Onder die voormalige Springbok-afrigter se leiding het die Bulls weer ’n hegte eenheid geword wat weet hoe om wedstryde in Suid-Afrika te wen. Dit is egter nou hul kans om te wys dat hulle ook in Europa met die louere kan wegstap.

“Die spelers het hard gewerk om hier uit te kom en om in die eindstryd te speel is hul eerste beloning. Om die trofee omhoog te hou sal ongetwyfeld die kersie op die koek wees.”

Hoewel Vermeulen en Steyn die spilpunt is waarom die Bulls se sukses in Suid-Afrika gedraai het, het Coetzee verlede week gewys dat hy ook ’n rateltaai leier is, terwyl Smith se skopskoen bitter gevaarlik is.

Ja, die veld is onbekend en hul teenstanders is volksvreemd; maar die Bulls weet mos nie van verloor nie. Of hoe?

Die wedstryd begin Saterdag om 18:30 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls: David Kriel (heelagter), Madosh Tambwe (regtervleuel), Marco Jansen van Vuren (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), Stravino Jacobs (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Ivan van Zyl (skrumskakel), Marcell Coetzee (kaptein en agtsteman), Ruan Nortjé (flank), Nizaam Carr (flank), Jan Uys (slot), Walt Steenkamp (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Schalk Erasmus, Jacques van Rooyen, Lizo Gqoboka, Janko Swanepoel, Muller Uys, Zak Burger, Clinton Swart, Gio Aplon, Robert Hunt, Keagan Johannes, WJ Steenkamp, Dawid Kellerman en Sydney Tobias.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
FranWilder

Hoe laat is die wedstryd?