Bulls kan maklik by die kruispad beland

Dis die harde feite en koue werklikheid: die Bulls kan maklik in die spervuur beland as daar besluit word om die reeks te verklein deur van nóg ʼn Suid-Afrikaanse span ontslae te raak.

Die Bulls het die afgelope drie jaar verreweg die swakste vertoningslys van die Suid-Afrikaanse spanne in die Superrugbyreeks.

Dit kan mos nie waar wees nie, word daar sekerlik in die Jakarandastad gesê. Dit gaan mos nie net oor vertonings nie, maar ook oor infrastruktuur, fasiliteite, spelersgetalle, toeskouerbywoning, die volhoubaarheid en finansiële stand van die maatskappy en historiese agtergrond …

Wat dan van die drie Supertitels in 2007, 2009 en 2010? Is die Bulls dan nie die enigste SA span wat nog as kampioen gekroon is nie?

Maar wees maar gewaarsku, toe die Lions ʼn paar seisoene gelede van hul Superrugbystatus gestroop is, het dit uitsluitlik oor vertonings gegaan en basta met die res.

Só is die mat verlede jaar ook onder die Cheetahs en Southern Kings uitgepluk.

Die Sanzaar-base (die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond) het verlede week in Singapoer vergader om oor die toekoms van die reeks te besin.

Die huidige uitsaaikontrak verstryk aan die einde van 2020 se reeks en daar is sprake om die reeks uit te brei om dalk ʼn span van Suidsee-Eilande en/of ʼn span van Noord-Amerika in te sluit.

Ná die vergadering is ʼn kort verklaring uitgereik waarin daar gesê is dat dit “vrugtevolle” samesprekings was.

ʼn Mens weet nie wat alles bespreek is nie, maar sê nou maar daar word besluit om nog ʼn Suid-Afrikaanse span se drade te knip?

Die Lions troon die afgelope drie seisoene kop en skouers uit bo die Suid-Afrikaanse franchise’e, met 33 oorwinnings in 45 wedstryde en ʼn wenpersentasie van 73,33%. Boonop het hulle in twee opeenvolgende eindstryde in 2016 en 2017 gespeel.

Hulle word gevolg deur die Stormers, wat met 26 oorwinnings in 46 wedstryde en ʼn wenpersentasie van 56,52% volg.

Die Sharks spog met 24 oorwinnings in 45 wedstryde (53,33%) en dan volg die Bulls met 19 seges in 45 wedstryde (42,22%).

Dís hoekom dit so belangrik is vir die Bulls is om voet in die deur te hou, om vordering te toon en om genoeg diepte te ontwikkel om sodoende die toekoms met vertroue aan te durf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Frans C ·

Dit is feitlik ondenkbaar dat die Bulle nie langer deel van ‘n Superrugbyreeks sal wees nie.
Moet daar nie na ‘n totaal nuwe struktuur vir die Superrugbyreeks gekyk word.
My voorstel behou die provinsiale stelsel vir plaaslike kompetisies,soos bv die Currie -en uitdaagbeker.

Vir Superrugby moet daar na groter streek gekyk word en kan daar teruggekeer word
na ‘n stelselsel toe Transvaal nog Transvaal was voordat die ander bonde van dit afgestig het.
‘n Superrugbyspan word dan uit die streek gekies en ‘n afrigter en afrigtingpersoneel val onder SA Rugby soos die Springbokafrigter.Enige provinsiale of selfs buitelandse afrigter kan aansoek doen om die span af te rig.

Uit die streek kan ‘n span saamgestel word wat die Crusaders kan onttroon en SA rugby op die wenpad kan plaas.Daar kan selfs voordat die span gekies word ,proewe plaasvind
waar elke provinsiale span in die streek spelers kan kies om daar aan deel te neem.Die span se hoofkwartier kan op ‘n rotasiebasies gekies word.As jy nie ‘n wenspan uit die
Lions,Bulls,Poemas,Luiperds en Valke kan kies nie skort daar iets drasties in SA Rugby.

So kan daar na ander streke gekyk word om ‘n nuwe indeling daar te stel.

volla ·

Cheetahs en Leeus was die Cats, het nie gewerk nie. Te veel provinsialisme wat deursypel na superrugby. Elkeen wil koning kraai op sy eie mishopie.

ADELE SWANEPOEL ·

en wat vandie Stomers of is hul te grand om uit te val

ADELE SWANEPOEL ·

beter se voet hul speel swaker rugby as die BULLE maar daarvan word niks gese nie

nico k ·

Nee Frans C, daardie stelsel van jou is al probeer toe die super 12 in 1996 begin is . Die Pumas, Valke en Bulle was saam, Die OP, Grens en Natal saam, ens. Dit het nie gewerk nie. En wat van die Cheetahs en Leeus wat saam was. Die idee was goed, maar in die praktyk het die nie gewerk nie.

LS ·

Stem saam.
Die Cats was saamgestel uit die Lions, cheetas, valke, luiperds en griekwas (ek dink die griffons was deel daaravan). Op papier `n baie goeie span gewees maar het nie werklik goed gevaar nie. Het `n gemiddelde wen persentasie van net minder as 30% gehad. Dieselfde het maar ook gegeld vir die bulls streekspan wat bestaan het uit die bulls en poemas met `n gemiddelde wen persentasie van net oor die 30%.

Callie ·

Almal kan alle verkonings voorhou. Rugby in SA gaan n stadige dood sterf. Net soos ek vir die bokke hoop om die Proteas te word, net so hoop ek die Bulls verander hulle naam ook. Die trots in SA rugby is afgebreek en vernietig. Danie Craven het dit uitgespel, die geldgod gaan dit doen. Daar het net kwotas bygekom wat dit erger maak. As paviljoene leeg is, is daar niks. Dit is bitter erg om voor n skare van 10 of 12 met trots te speel. Waar is die kwotas skares wat nou op die paviljoen moet wees. As die trotste unie in die land bankrot raak en nooit meer wen nie, NAG OU GROTE. Vir die wat onthou

Theo ·

Ek stem saam met jou Callie, wat my aanbetref is rugby n ou uitgediende spel wat se rak leeftyd al reeds verby is. En natuurlik is daar gewoonlik net die klipdrif en coke ondersteuners wat die blou gedrog aan die gang hou. waar die ou kolos loftus staan kan beter benut word deur bv n behuisings projek,winkel sentrum of selfs n hotel gebou word.

Frans C ·

Dit is waar dat die Cheetahs/Lions kombinasie nie gewerk het nie.Die hoofrede was gegrafies en twee unies met ‘n totaal verskillende benadering.Die jonger lesers sal nie weet hoekom Unies van die destydse Transvaal afgestig het nie.
Die hoofrede was die feitlik arrogante manier waarop spelers van Noord Transvaal
weggelaat is omdat Transvaal dominant in spelerkeuse was.

Dit is daarom dat ek voorstel dat ‘n streekspan gelyk aan die ou Transvaal weggeneem word van provinsiale bestuur en onder SA rugby geplaas word met ander afrigters en ‘n ander bestuurspan.Hier kan Erasmus werklik ‘n bydra lewer en rugby op ‘n eenvormige voet plaas,weg van provinsiale voorkeure.Na die reeks verby is keer spelers na hul unies terug en bly nie sommer soos tans die geval is by die Superrugby provinsie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.