Bulls klop Sharks ʼn tweede keer

Warrick Gelant het op aanval en verdediging sy toetskanse verbeter. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls wou Saterdag op Loftus uit die staanspoor hardloop en het dit doeltreffend gedoen, maar toe kom die Sharks, buit hulle foute uit en oorheers die eerste 20 minute of so ná rustyd.

Dit was egter nie genoeg nie, en die Bulls het hulle onlangse groot oorwinning in Durban herhaal deur met 39-33 te wen.

Die Bulls is nou tweede van die Suid-Afrikaanse spanne op die punteleer en derde in die Suid-Afrikaanse afdeling, ná die Lions en die Jaguares. Die Stormers (23 punte) is ná hul neerlaag teen die Chiefs nou in die laaste posisie met die Jaguares, Bulls en Sharks (almal 24 punte) wat ʼn wedstryd minder gespeel het.

Travis Ismaiel – weer goed onder die hoe bal. (Foto: GB Jordaan)

Die Sharks het op Loftus die verloor-bonuspunt verdien in ʼn wedstryd waar Burger Odendaal-hulle vyf drieë teen drie gedruk het.

Die Bulls was, alles in ag genome, die beste span. Hulle het goed verdedig, en deur twee skitterende stukkies spel van Jesse Kriel, wat die eerste drie van Warrick Gelant met ʼn rolskop aangevoer het en toe self gebreek en afgerond het, het hulle vroeg al met 12-0 en toe 19-7 voorgeloop.

Gelant was weer uitstekend op heelagter en het sy toetskanse heelwat goed gedoen, en Lood de Jager en RG Snyman verbeter met elke opdrafslag as slotpaar.

Die Bulls se nuwe hardlooprugby was mooi om na te kyk, meestal doeltreffend met ʼn fout of twee te veel wat reggestel sal moet word om op dieselfde peil as Nieu-Seelandse spanne te kom.

Maar daar is iets in Pretoria aan die gebeur… en die grootste pluspunt is dat die spelers John Mitchell se patroon onder die knie begin kry. Posisioneel, te midde van hardlooprugby, het hulle hul struktuur bly behou.

Andre Esterhuizen – ‘n goeie wedstryd met skaars aanvalskanse.(Foto: GB Jordaan)

Die Sharks het meer direkte rugby gespeel, en die Du Preez-tweeling  was goed en doeltreffend met Akker van der Merwe wat moontlik die beste van die pak was.

Agter die skrum het die Sharks egter nie heeltemal oortuig nie, en het hulle te min balle by hulle buite-agterspelers gekry deur ʼn agterlynstruktuur wat nie vir hardlooprugby bedoel is nie.

Puntemakers –

Bulls (22) 39:  Drieë: Warrick Gelant, Jesse Kriel, Roelof Smit, Johnny Kotze, Lood de Jager. Strafdoele: Handré Pollard (2). Doelskoppe: Pollard (4).

Sharks (17) 33: Drieë: Curwin Bosch, Jacques Vermeulen, Jean-Luc du Preez. Strafdoele: Curwin Bosch, Robert du Preez (3). Doelskoppe: Du Preez (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans C ·

Dit bly maar verbasend dat spelers ‘n ander speler pootjie en dink dat hy daarmee kan wegkom.’n Geelkaart kos die Sharks en ‘n drie word gekanselleer.Die konferensiestelsel trek alles skeef.
Dit is beter om na ‘n span se wen % te kyk om te sien hoe goed of sleg hul vaar.
Daar volgens lyk die prentjie so.
1.Hurricanes speel 10 wen 9 -90%
2.Crusaders speel 11 wen 9 -81%
3.Highlanders en Chiefs speel 10- 7-70%
5.Jaquares speel 11 wen 6 -54%
6.Waratahs speel 10 wen 5-50%
7.Lions speel 12-wen 6-50%
8 Bulls en Rebels speel 11 wen 5 -45%
10.Stormers Speel 12 wen 5-42%
11.Reds Speel 10 wen 4-40%
12. .Sharks speel 11 wen 4-36%
13Blues speel 11 wen 5-27%
14.Brumbies speel 10 wen 3-30%
15. Sunwolwes speel 10 wen 1-10%
Kan dalk help met Superbru picks.

Frans C ·

Verskoning 13-moet lees Blues speel 11-wen 3 (nie 5) 27%.
Ek gebruik windows 7 Home premium en kon nog geen oplossing vir ‘Mouse en Keyboard
freeze’ vind nie en raak dan haastig omdat ‘n ‘freeze’ kommentaar moeilik maak.
Enigiemand wat ‘n oplossing het behalwe om op te gradeer?

nico k ·

Die tragiese van die analise is dat NZ die top vier spanne het. As ons nie deur die stelsel bevoordeel word nie. Sou ons geen enkele tuishalfeindstryd gehad het nie. Gelukkig is die Leeus (waarskynlik) verseker van ‘n tuis halfeind waar hulle teen die sewende span sal moet speel. Al eindig hulle self 5de.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.