Die Blou Bulle Maatskappy het Vrydag die verlenging van bestaande kontrakte, die sluit van ʼn nuwe kontrak en die vertrek van ʼn Superspeler, bekend gemaak.
Die voormalige kaptein van die Junior Springbokke, Hanro Liebenberg, en mede-Junior Bokke Ivan van Zyl en Dries Swanepoel, gaan al drie nog twee jaar langer by die Blou Bulle en Bulls bly.
Dit volg op die nuus dat die Springbokslot Lood de Jager ook sy kontrak verleng het en dat die voormalige losvoorspeler van die Cheetahs wat ook vir die Blitsbokke gespeel het, Boom Prinsloo, reeds by die Bulls ingeval het. Hy speel Saterdag vir die Blou Bulle in die Supersportreeks teen die Valke.
♦ Tim Agaba, wat by die Rio Spele vir die Blitsbokke die bronsmedalje help wen het, sluit hom aan die einde van die huidige sewesreeks van Wêreldrugby by die Bulle aan.
In Agaba se geval is dit amper ʼn geval van tuiskoms, want die groot losvoorspeler het dit sterk oorweeg om na die geldfiasko by die Kings einde 2015 na die Bulle toe te verskuif toe Neil Powell hom nadergetrek het om vir die Blitsbokke te speel.
Soos Prinsloo sal Agaba ook vir die Blou Bulle in die Curriebekerreeks beskikbaar wees.
♦ Die Bulls verloor egter die losskakel Tian Schoeman, wat in die skadu van Handré Pollard nie tot sy reg by die Bulls sal kom nie. Schoeman vertrek ná die seisoen Frankryk toe waar hy vir Bordeaux sal speel.
♦ Daar is ook sprake dat die jong slot, Jason Jenkins, op pad Japan toe is. Jake White, wie se termyn by Montpellier nou eindig, rig voortaan in Japan af en is glo op soek na Jenkins en die Southern Kings se losskakel Lionel Cronjé.
Tiaan, ons gaan jou nie mis nie. Jy speel net so voorspelbaar soos Rudi Paige. Wil iemand nie ook dalk vir Rudi ‘n kontrak aanbied nie.