Bulls moet in Italië gaffel

Die vlieënde Madosh Tambwe is een van die Bulls se gevaarlikste spelers. Foto: GB Jordaan.

Dinge verloop nie heeltemal volgens plan vir die Bulls in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) nie.

Die trots van Pretoria het ses nederlae in hul nege wedstryde gely en hulle beklee tans die 12de plek op die punteleer; 22 punte weg van Leinster in die eerste plek.

Dit was aanvanklik ’n aanpassing om rugby in Europa te speel, maar die Bulls het ’n week of wat gelede selfs op Fort Loftus vasgeval toe die Sharks hulle met 29–22 geklop het.

Nou sal die Pretorianers hul veldtog weer op koers wil kry wanneer hulle môre teen Zebre (statisties die swakste span in die reeks) in Italië speel.

“Ons verwag kwaai teenstand van Zebre op hul tuisveld, maar ons wil met nog ’n oorsese oorwinning na Suid-Afrika terugkeer,” het Jake White (afrigter) gesê.

White sal egter die Italianers sonder die ervare Morné Steyn aandurf wat vir ’n paar weke geskors is ná sy rooi kaart teen die Sharks.

Chris Smith en Embrose Papier sal nou die skakelpaar wees, met Kurt-Lee Arendse wat op heelagter sal uitdraf.

Die Bulls se vorige speelkans in Italië was in die rampspoedige Reënboogbeker-eindstryd teen Benetton; ’n wedstryd wat hulle met 35–8 verloor het.

Dit is tyd dat die Pretorianers hul stempel behoorlik teen Europese teenstanders afdruk.

Die wedstryd begin môre om 19:30 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls: Kurt-Lee Arendse (heelagter), Cornal Hendricks (regtervleuel), Lionel Mapoe (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Madosh Tambwe (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Arno Botha (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Ruan Nortjé (slot), Walt Steenkamp (slot), Jacques van Rooyen (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Bismarck du Plessis, Simphiwe Matanzima, Robert Hunt, Janko Swanepoel, WJ Steenkamp, Keagan Johannes, Juan Mostert en Canan Moodie.

VRK-punteleer:

  1. Leinster 40 punte
  2. Ulster 40 punte
  3. Glasgow Warriors 39 punte
  4. Munster 35 punte
  5. Edinburgh 34 punte
  6. Ospreys 26 punte
  7. Connacht 24 punte
  8. Stormers 23 punte
  9. Benetton 23 punte
  10. Sharks 21 punte
  11. Cardiff 18 punte
  12. Bulls 18 punte
  13. Scarlets 17 punte
  14. Lions 12 punte
  15. Dragons 11 punte
  16. Zebre 1 punt

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willi ·

Ja nee, die groot bekke kan hopelik maar weer ‘n goeie pak slae te wagte wees. As hulle wen is hulle in elk geval so ver agter dit maak nie meer saak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.