Bulls moet veldtog vroeg-vroeg op koers kry teen Blues

Kan Travis Ismaiel teen die Blues weer so maak? (Foto GB Jordaan))

Praat is maklik, maar in die Bulls se kamp is daar ʼn selfvertroue wat hulle een naelskraapse oorwinning, teen die Sunwolves, uit twee neerlae weerspreek.

Hulle speel Saterdagoggend (08:35) in North Harbour (Auckland) teen die Blues wat verlede seisoen tekens van regruk getoon het en onder Tana Umaga vanjaar daarop voortgebou het.

Die Bulls is amper daar. Dit is nou ʼn kwessie vir die spelers om aangeë vas te vat, oortredings in hulle eie gebied te beperk, en om af te rond.

Dit is dinge waaraan ʼn afrigter weinig kan doen. Die spelers glo hulle is op die regte pad, neem die aanspreeklikheid vir die twee neerlae en voel hulle gaan nou ʼn ommekeer tegemoet.

Wat opvallend is, is dat die Blues (anders as die Crusaders wat eers teen die einde op dreef kom) teen die einde uitsak na ʼn goeie eerste 60 minute of so.

Nollis Marais-hulle het aan die ander kant miskien so effens stadig begin in hul wedstryde.

Die Bulls het ʼn baie goeie pak, ondanks die besering van Roelof Smit en die skorsing van Renaldo Botmha, twee uitstekende losvoorspelers.

Die hele voorry het al die Boktrui gedra (Lizo Gqboko nie in ʼn toets nie) en Lood de Jager is ʼn ervare toetsspeler. Jason Jenkins begin sy potensiaal verwesenlik. En die losvoorspelers, hoewel miskien ietwat stadig na die afbreekpunte, is harde werkers en goeie verdedigers.

Maar dis agterlangs wat die Bulls sal hoop dat dinge kliek. Vyf Bokke, met die veel-onderskatte Travis Ismaiel en die opwindende heelagter Warrick Gelant sonder Bokkleure die twee uitsonderings, beloof sukses. Hulle moet genoeg besit kry en Handré Pollard moet moet weer op stryk kom.

Die Bulls het hulle laaste tien  wedstryde in Kiwiland verloor. ʼn Sege Saterdag kan ʼn deurbraak vir die seisoen inlui.

Maar dit sal veel beter rugby as tot nou toe verg.

Die spanne –

Blues: 15 Michael Collins, 14 Matt Duffie, 13 Rieko Ioane, 12 George Moala, 11 Melani Nanai, 10 Piers Francis, 9 Augustine Pulu, 8 Jerome Kaino, 7 Blake Gibson, 6 Jimmy Tupou, 5 Patrick Tuipulotu, 4 Gerard Cowley-Tuioti, 3 Charlie Faumuina/Sione Mafileo, 2 James Parsons (kapt.), 1 Pauliasi Manu. Bank: 16 Matt Moulds, 17 Ofa Tu’ungafasi/Sam Prattley, 18 Sione Mafileo/Ofa Tu’ungafasi, 19 Akira Ioane, 20 Murphy Taramai, 21 Sam Nock, 22 Ihaia West, 23 TJ Faiane.
Bulls: 15 Warrick Gelant, 14 Travis Ismaiel, 13 Jesse Kriel, 12 Jan Serfontein, 11 Jamba Ulengo, 10 Handré Pollard, 9 Piet van Zyl, 8 Hanro Liebenberg, 7 Nick de Jager, 6 Ruan Steenkamp, 5 Lodewyk de Jager, 4 Jason Jenkins, 3 Trevor Nyakane, 2 Adriaan Strauss (kapt.), 1 Lizo Gqoboka. Bank: 16 Jaco Visagie, 17 Pierre Schoeman, 18 Rudolph Snyman, 19 Jannes Kirsten, 20 Rudy Paige, 21 Tian Schoeman, 22 Burger Odendaal, 23 John-Roy Jenkinson.

Afskop: 08:35

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.