Bulls moet hulle Vrydagaand regruk na twee keer se gesukkel

Handré Pollard moet oortuig (Foto GB Jordaan)

Handré Pollard moet oortuig (Foto GB Jordaan)

Nie ’n enkele oorwinning na twee wedstryde in vanjaar se Superreeks nie is beslis nie die soort getuigskrif waarop die Bulls sal trots wees nie.

Wanneer die Pretorianers dus Vrydagaand op Loftus Versfeld teen die Sunwolves van Japan op die veld draf, sal die boodskap van hulle afrigter Nollis Marais ondubbelsinnig wees: “Verseker ’n oorwinning.”

Die Bulls kom teen ’n Sunwolves-span te staan wat verlede naweek, teen die verwagting in, die Cheetahs die volle 80 minute vir ’n oorwinning laat sweet het. Die Pretorianers kan dus verwag dat die Japanners met ’n ingesteldheid dat ’n oorwinning binne hul bereik is, in die hoofstad sal opdaag.

Marais het verskeie van sy Springbokke soos die senter Jan Serfontein, die skrumskakel Piet van Zyl en die slot Lood de Jager nadergetrek. Dit is spelers van wie daar hoë verwagtinge gekoester word.

Die keuse van Renaldo Bothma en Ruan Steenkamp as flanke, beteken dat die Bulls waarskynlik voorlangs wil sagmaak, voordat agterlangs baljaar word. Bothma en Steenkamp is albei bekend vir hul inklimspel.

Dan sal ondersteuners van die Bulls duim vashou dat die losskakel se algemene spel, maar ook sy stelskopwerk, beter as in die neerlaag teen die Cheetahs sal wees.

Is hy Vrydagaand weer vroeg van stryk af, is die onus op Marais om hom eerder vroeër as later met Tian Schoeman, wat op die bank sit, te vervang.

Kan die Sunwolves verras? Hulle het verlede naweek oorgenoeg bereidwilligheid getoon om die bal rond te gooi.

Maar weet nou maar, ’n Bulls-neerlaag sal die Pretorianers in ’n krisis dompel.

Spanne –

Bulls: 15. Warrick Gelant, 14. Travis Ismaiel, 13. Jan Serfontein, 12. Burger Odendaal, 11. Jamba Ulengo, 10. Handré Pollard (kapt.), 9. Piet van Zyl, 8. Hanro Liebenberg, 7. Renaldo Bothma, 6. Ruan Steenkamp, 5. Lood de Jager, 4. Jason Jenkins, 3. Trevor Nyakane, 2. Edgar Marutlulle, 1. Pierre Schoeman. Bank: 16. Adriaan Strauss, 17. Lizo Gqoboka, 18. Jacobie Adriaanse, 19. RG Snyman, 20. Jannes Kirsten, 21. Ivan van Zyl, 22. Tian Schoeman, 23. Jesse Kriel.
Sunwolves: 15. Shota Emi, 14. Takaaki Nakazuru, 13. Jamie-Jerry Taulagi, 12. Timothy Lafaele, 11. Kenki Fukuoka, 10. Hayden Cripps, 9. Keisuke Uchida, 8. Willie Britz, 7. Shumei Matsuhashi, 6. Ed Quirk (kapt.), 5. Uwe Helu, 4. Sam Wykes, 3. Yasuo Yamaji, 2. Yusuke Niwai, 1. Koki Yamamoto. Bank: 16. Atsushi Sakate, 17. Masataka Mikami, 18. Heiichiro Ito, 19. Liaki Moli, 20. Yoshitaka Tokunaga, 21. Kaito Shigeno, 22. Jumpei Ogura, 23. Ryohei Yamanaka.

Afskop: 19:00

♦ Twee Australasiese kragmetings word ook Vrydag beslis.

Na twee oorwinnings wat letterlik in die doodsnikke beklink is, sal die Crusaders weet dat hulle geluk gaan uitloop. Teen die Highlanders en die Reds het die Crusaders van agter af gekom en die onwaarskynlike reggekry.

Vrydagoggend (SA tyd) kom hulle teen die Blues in Christchurch te staan, wat verlede week teen die einste Highlanders vasgeval het.

Hoewel die Crusaders nie ’n span vol sterre het nie, het hulle tot dusver die seisoen ondernemingsgees getoon.

Wedstryde tussen Nieu-Seelandse opponente gryp gewoonlik die verbeelding aan. Hierdie sal geen uitsondering wees nie.

Spanne –

Crusaders: 15. David Havili, 14. Manasa Mataele, 13. Jack Goodhue, 12. Ryan Crotty, 11. George Bridge, 10.  Mitchell Hunt, 9. Bryn Hall, 8. Whetu Douglas, 7. Jed Brown, 6. Jordan Taufua, 5. Sam Whitelock (kapt.), 4. Scott Barrett, 3. Owen Franks, 2. Codie Taylor, 1. Joe Moody. Bank: 16. Ben Funnell, 17. Wyatt Crockett, 18. Michael Alaalatoa, 19. Luke Romano, 20. Pete Samu, 21. Mitchell Drummond, 22. Marty McKenzie, 23. Sean Wainui
Blues: 15. Michael Collins, 14. Matt Duffie, 13. Rieko Ioane, 12. George Moala, 11. Melani Nanai, 10. Piers Francis, 9. Augustine Pulu, 8. Jerome Kaino, 7. Blake Gibson, 6. Jimmy Tupou, 5. Patrick Tuipulotu, 4. Gerard Cowley-Tuioti, 3. Ofa Tu’ungafasi, 2. James Parsons (kapt.), 1. Pauliasi Manu. Bank: 16. Matt Moulds, 17. Sam Prattley, 18. Sione Mafileo, 19. Akira Ioane, 20. Murphy Taramai, 21. Billy Guyton, 22. Ihaia West, 23. TJ Faiane.

Afskop: 8:35 (SA tyd)

Dit is te betwyfel of die kragmeting in Melbourne tussen die Rebels en die Chiefs enigiets anders as eensydig gaan wees.

Die Chiefs is steeds onoorwonne vanjaar, terwyl die Rebels steeds op soek is na ’n eerste oorwinning.

Dat die Chiefs verlede naweek die verdedigende kampioen, die Hurricanes, in gietende reën uitoorlê het, het iets gewys van die manne van Waikato se ingesteldheid. Hulle het vanjaar planne om weer die trofee omhoog te hou.

Spanne –

Rebels:15. Jack Debreczeni, 14. Sefa Naivalu, 13. Tom English, 12. Reece Hodge, 11. Marika Koroibete, 10. Jackson Garden-Bachop, 9. Nic Stirzaker (kapt.), 8. Amanaki Mafi, 7. Colby Fainga’a, 6. Jordy Reid, 5. Steve Cummins, 4. Culum Retallick, 3. Laurie Weeks, 2. James Hanson, 1. Fereti Sa’aga. Bank: 16. Pat Leafa, 17. Cruze Ah-Nau, 18. Tyrel Lomax, 19. Murray Douglas, 20. Jake Schatz, 21. Ben Meehan, 22. Sione Tuipulotu, 23. Ben Volavola.
Chiefs: 15. Shaun Stevenson, 14. Toni Pulu, 13. Anton Lienert-Brown, 12. Stephen Donald, 11. Solomon Alaimalo, 10. Damian McKenzie, 9. Tawera Kerr-Barlow, 8. Liam Messam, 7. Sam Cane (mede-kapt.), 6. Tom Sanders, 5. Brodie Retallick, 4. Dominic Bird, 3. Nepo Laulala, 2. Sabastian Siataga, 1. Kane Hames. Bank: 16. Hika Elliot, 17. Siegfried Fisi’ihoi, 18. Atu Moli, 19. Mitchell Brown, 20. Mitchell Karpik, 21. Finlay Christie, 22. Aaron Cruden (mede-kapt.), 23. Johnny Faauli.

Afskop: 10:45 (SA tyd)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.