Bulls oorheers, maar laat glip ʼn sege teen die einde

Lizo Gqoboka dryf teen die Highlanders met Jason Jenkins by om te help. (Foto: GB Jordaan)

Soos teen die Cheetahs verlede week het die Highlanders die Bulls teen die einde van hulle wedstryd op Loftus onverhoeds betrap en ʼn drie kort voor die einde van die wedstryd gaan druk om met 17-10 te wen.

Dit was miskien net-net ʼn verdiende sege deur die Highlanders, maar Nollis Marais se span het met individuele stukkies droogmaak die goeie spanpoging in veral die laaste kwartier tot niet gemaak.

Dit was ʼn veel beter vertoning deur die tuisspan op ʼn veld wat deur ʼn donderstorm kort voor die aanvang redelik nat vir die stryd gelaat is.

Die nat veld en glibberige bal het hantering bemoeilik en tot ʼn hele aantal onnodige hanteerfoute gelei. Daar is veral in die eerste helfte baie geskop en tussen hulle het die twee spanne die bal feitlik 60 keer op die voet gesit.

Die Bulls het feitlik 70 persent van die besit en meer as 70 persent gebiedsvoordeel gehad. Hulle het die bal 133 keer teenoor 60 gedra, meer as dubbel soveel verdedigers as die Highlanders geklop, die bal veel meer hanteer en net sowat 40% soveel duikslae as die wenspan moes uitvoer.

Hulle het die losskrums twee teen een oorheers en was ondanks hulle agterstand met 3-10 teen die omdraaislag, die beste span.

Die tweede helfte was die Bulls moontlik nog meer in beheer.

Maar al die besit en aangeewerk beteken vere as jy nie punte aanteken nie, en dit is wat gebeur het.

Benewens ʼn paar geleenthede waar swak opsies die Bulls moontlike punte gekos het, was daar die sinnelose instorm van hulle slot RG Snyman in ʼn losgemaal waar hy met sy skouer kontak met een van die teenstanders se kop gemaak het.

Hy het ʼn rooikaart gekry, en dit was in die konteks van die wedstryd belangrik. Dit het veroorsaak dat die goeie “drie” van  plaasvervanger-stut Conrad van Vuuren nie toegeken is nie, en die wendrie van Malakai Fekitoa sowat vier minute voor die einde het gekom van ʼn lynstaan wat die Bulls op hulle eie ingooi sonder hulle voorste springer verloor het.

Maar dit was nie net die verloor van die lynstaan nie. Toe dit getel het, het die Bulls se verdediging geswig – en die hartseer duur voort.

Puntemakers –

Bulls (3) 10: Drie: Gelant. Doelskop: Tian Schoeman. Strafdoel: Schoeman.
Rooikaart: RG Snyman.

Highlanders (10) 17: Drieë: Matt Faddes, Malakai Fekitoa. Doelskoppe: Fletcher Smith, Marty Banks. Strafdoel: Smith.
Rooikaart: Waisake Naholo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frans C ·

Die nat veld die wedstryd meer gelykop gemaak ,maar tot hanteringsfoute aan beide kante gelei. Bulle sou mi op droë gesukkel het om by tempo aan te pas.

Dirkie ·

Bulls se nr 6 flank het seker die ball 5 keer in kontak verloor. As die veld drool was sou Highlanders met mere as 30 punte gewen het. RG Snyman moet geskors word vir die res van die jaar. As ons in ons werke sulke foute maak word ons soon n sleg hond weggejaag. Die Bulle moet van CEO tot afrigtingspan nuut oor begin. Gun dan die nuwe coach om sy eie spelers te kontrak en bestuurspan saam te stel. Soms vee nuwe besems lekker skoon.

Arie ·

Ek stem Dirkie! Slegter kan dit wragtig nie gaan nie!!!!!!!!!!!!!!!

thelsa ·

Basics! Basics! Basics! As die Bulls ae hande en harte so groot soos hulle koppe is, sal dit beter gaan.

koos1 ·

Ek hoor die afrigter sê dit en die kaptein dat, maar ek hoor nêrens die woorde, jammer ondersteuners en het droog gemaak, nie. Dan wonder hulle hoekom net 10 mense opdaag om te kom kyk?

Arie ·

Min tot geen afrigting te bespeur, ons sien uit na bestuur en die afrigters se aftrede!!!!

Ben ·

Dit is hoog tyd dat die Bulls iemand soos John Mitchell as afrigter aanstel sodat hy die spelers kan leer wat dissipline is.Toemaar met die min mense wat deesdae Loftus toe gaan sal hulle hom in elk geval nie kan bekostig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.