Bulls pak die onbekende aan in Brisbane

Warrick Gelant - terug na sy besering verlede jaar

Warrick Gelant – terug na sy besering verlede jaar

Die Bulls pak die onbekende aan met aanstaande week se opwarm-ekskursie na Brisbane.

Hulle afrigter Nollis Marais erken dat hulle op ‘n ‘interessante’ oefenlopie is omdat hulle, benewens ʼn opwarmwedstryd Donderdag teen die Chiefs in Brisbane, ook aanstaande naweek in die tienetoernooi in dieselfde stad speel.

Dít is grootliks ʼn vreemde spel vir Suid-Afrikaanse spelers en iets tussen die vyftienman- en seweskode. Daar is steeds heelwat ooptes op die veld, maar met vyf voorspelers is daar darem ook meer losskrums, stewiger skrums en twee losvoorspelers wat hulle slag moet wys. In ʼn neutedop het die kode meer struktuur.

“Dit (die besoek) sal ons tyd gee om as groep saam met werk en dit is baie kosbaar, veral in dié tyd van ons voorseisoense voorbereiding. Die manne is gretig om aan die gang te kom en verstaan presies wat ons uit hierdie besoek wil kry,” sê Marais.

Handré Pollard, wat as die kaptein aangewys is tot die terugkeer van Adriaan Strauss na sy operasie, sal sy eerste rugby in meer as ʼn jaar speel en die span die eerste keer teen die Chiefs aanvoer.

Saterdag en Sondag sal hulle in die tienetoernooi teen die Brumbies en Highlanders speel wat in hulle groep is, en afhangende van uitslae, daarna ook teen een van die Force, Hurricanes of Toulon.

Die Bulls het 36 spelers in hulle toergroep, waaronder Strauss. Die Bulls het ook weer vir Jacques Potgieter na sy omswerwinge en die opwindende heelagter Warrick Gelant na sy besering terug in die uitsoekgroep.

Bulls se groep –

Agterspelers
Warrick Gelant, Jade Stighling, Jamba Ulengo, Travis Ismaiel, Luther Obi, Burger Odendaal, Jesse Kriel, Johnny Kotze, JT Jackson, Dries Swanepoel, Francois Brummer, Handré Pollard (kapt.), Tian Schoeman, André Warner, Ivan van Zyl, Piet van Zyl, Rudy Paige.

Voorspelers
Renaldo Bothma, Hanro Liebenberg (o-kapt.), Ruan Steenkamp, Shaun Adendorff, Nic de Jager, Jacques Potgieter, Jason Jenkins, Ruben van Heerden, RG Snyman, Lodewyk de Jager, Jacobie Adriaanse, John-Roy Jenkinson, Trevor Nyakane, Lizo Gqoboka, Pierre Schoeman, Corniel Els, Edgar Marutlulle, Jaco Visagie, Adriaan Strauss.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.