Bulls punteloos ná Stormers-slag

ʼn Mens wonder werklik wat Maandae in die terugvoervergaderings gesê word wanneer die naweek se Superrugby-wedstryd ontleed word.

Maar wat kan ʼn mens nou eintlik sê wanneer ʼn span kans op kans kry, maar nie kan afrond nie.

Was jy hul die kop, slag jy hulle af of sien jy maar die foute oor wat begaan is en probeer volgende Saterdag weer?

Dit het Saterdag op Nuweland gebeur toe die Stormers op die wenpad gebly het en die Bulls met 13 – 0 geklop het. Dit nadat hulle rustyd met 8 – 0 voor was.

Die Stormers het die Hurricanes verlede week met 27 – 0 geklop en dit beteken dat hulle in 160 minute nog nie ʼn punt afgestaan het in vanjaar se reeks nie.

Dit is ʼn pluimpie vir die span se verdediging; vir hul trots om die teenstanders van hul doellyn af weg te hou.

Aan die ander kant kon die Bulls die telbord aan die rol gehou het deur pale toe te skop in plaas van kantlyn toe nadat die geleentheid daar was.

Soos Naas Botha altyd gesê het, “neem jou punte”.

Om drie punte aan te teken sou dalk nie die Bulls laat wen het nie, maar dit kon die momentum geswaai het, dit kon die span moed laat skep het, dit sou nie die Bulls punteloos op die telbord gelaat het nie.

Die Bulls het verder met die bal gehardloop, hulle het die bal meer aan- en uitgegee, hulle het minder duikslae uitgevoer (100 teenoor 75) en hulle het ʼn rapsie minder duikslae gemis.

Maar daardie X-faktor het ontbreek… soos toe Seabelo Senatla byna 30 meter vir sy drie gehardloop het nadat Dillyn Leyds in die agterlyn gespring het en die man-oor bewerkstellig het.

Die Bulls het hul man in die skrums en lynstane en in die los gestaan, maar dit alleen gaan hulle nie die Superreeks laat wen nie.

Hulle sal moet drieë druk, hulle sal die bal meer die werk moet laat doen.

Die Stormers kook nog nie heeltemal nie, maar met ysterstutte soos Steven Kitshoff en Frans Malherbe, die ywerige werkesel Pieter-Steph du Toit en agterlangs vaardige balspelers soos Herschel Jantjies en Senatla, die twee stormramme Ruhan Nel en Roberts, gaan baie min spanne hulle vanjaar klop.
Boonop is fort-Nuweland (voordat daar afskeid gehou word) hul groot bondgenoot. Kyk maar net hoe volgepak was die stadion ondanks al die onplesierige gebeure van die afgelope jaar.

Dit draai alles om wen. En dít kan die Stormers vanjaar doen.

Puntemakers:

Stormers 13 (8): Drieë: Jamie Roberts, Seabelo Senatla. Strafdoel: Damian Willemse.

Bulls 0

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Spearhead ·

Ek sien ‘n moeilike jaar vir die Bulle voorlê. Ek dink Pote het gestagneer in sy afrigtins tegnieke. Die bulle het lanklaas bo uitgekom en dit tyd om hom te vervang. Die Stormers het daar teenoor rostsvaste vedediging gehad.

Die Bulle sal hulle verdediging en hand tot hand aangee drasties moet verbeter. Dit lyk nie of Pote en sy afrigters die insig het om dit raak te sien nie, want dit kom nou al lank saam met die Bulle. Twee verlore in ‘n ry begin nie goed vir die manne in blou nie.

Kom aan Bulle, julle kan beter doen.

DERICK ·

Die Bulle is nie sleg nie, nee hulle is SUPER SLEG. Hoe kan hulle regkom?
1 Raak ontslae van die kaptein, hy hoort nie in die span nie.
2 Hou op om spelers te koop wat net n jaar of twee nog oorhet.
3 Kry n afrigter.
4 Spandeer minder tyd in die Gym, en meer tyd op die veld.

Anoniem ·

Dit was ‘n baie swak wedstryd deur beide spanne met die beste verdedigende span wat gewen het.

commontar ·

Beste MM

‘n Rugbywedstryd is 80 minute en dus het die Stormers 160 minute gespeel sonder om ‘n punt af te staan en nie 180 soos hierbo aangedui nie.

Megan Swart ·

Dagsê JW
Ons vra om verskoning vir die verwarring. Dit was inderdaad ‘n fout. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Jan ·

Sal graag n Bulle oefening wil bywoon om te sien of hulle sonder opposisie n drie sal kan druk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.