Bulls reg vir taai 80 minute teen Lyon

Marcell Coetzee en die Bulls wil weer ’n stewige vertoning teen Lyon lewer. (Foto: GB Jordaan.)

Die Bulls is Saterdag terug op hul tuisveld vir ʼn belangrike Kampioenebeker-wedstryd teen Lyon. En wanneer die Loftus Versfeld-skare saam gesels, is die Pretorianers telkemale op hul beste.

“Ons ondersteuners maak ʼn reuseverskil in die oomblikke wanneer die span sy rug teen die muur het; hulle is amper soos ʼn bykomende speler,” het Marcell Coetzee gesê.

Die Bulls-kaptein het die Lyon-kragmeting as ʼn gulde geleentheid uitgesonder om weer ʼn volgepakte Loftus te sien.

Die Franse klub spog onder meer met 21 internasionale spelers in sy geledere en kan op die vaardighede van sterre soos Ethan Dumortier, Baptiste Couilloud en Semi Radradra steun.

Bulls-voorryman Wilco Louw verwag ʼn taai stryd – Lyon hou immers daarvan om voorlangs die pap dik aan te maak.

“Hulle is ʼn Franse Top 14-span en dit beteken dat hulle van skrums en rolmaalbewegings hou, terwyl hul reuse-senters ook die bal met mening kan dra,” het die Bulls se Springbok-stut gesê.

Die Pretorianers sal graag weer terug op die wenpad wil kom nadat hulle verlede naweek sleg in die tweede helfte teen ʼn begeesterde Leinster-span die onderspit gedelf het.

Die Bulls het ʼn rustydvoorsprong van 14 – 12 teen die Iere geniet, maar hulle het in die laaste 40 minute vyf drieë afgestaan om uiteindelik met 47 – 14 te verloor.

“ ʼn Mens kan nie eintlik anders as om vir Leinster ʼn klop op die skouer te gee nie. Ons het goed in die eerste helfte vertoon en het sterk geskrum. Maar ons kon dinge net nie in die tweede helfte volhou nie en ons sal beslis vir die volle 80 minute teen Lyon moet spéél,” het Louw gesê.

Die Bulls het in 2022 vir Lyon met 42 – 36 op Loftus Versfeld geklop, maar hulle het in Desember met een punt weg van die huis verloor.

ʼn Uitstekende vertoning in die eerste helfte was toe pure verniet en die Pretorianers het uiteindelik met 29 – 28 op die Stade de Gerland vasgeval.

Die wedstryd begin Saterdag om 13:30 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.