Bulls roep Tappe Henning se hulp in

Argieffoto (Foto: Filippo Monteforte/AFP)

Bulls-afrigter Jake White het veteraan-skeidsregter Tappe Henning gevra om by die span in Cardiff aan te sluit vir die volgende paar dae. Hy moet die span bystaan met die verskille in interpretasies van rugbyreëls deur skeidsregters.

Henning werk die afgelope agt jaar in rugby in die Verenigde Koninkryk. Hy is die wedstrydbeampte-kommissaris vir rugby in Skotland en het baie ervaring van plaaslike skeidsregters.

White het ook Henning se hulp vir die Sharks aangebied wat ook op die oomblik in Cardiff is.

Die Bulls-afrigter het op dié stap besluit nadat hulle in die eerste twee rondes gesien het hoe die skeidsregters tussen die Noordelike en Suidelike halfrond verskil.

“Voor die kampioenskap het ons tyd deurgebring met Suid-Afrikaanse skeidsregters om ons voor te berei van wat om in die noorde te verwag. Wat toe gebeur het, is dat dinge nie is soos wat ons gedink het dit gaan wees nie. So ek het vir Tappe gevra om na ons wedstryd teen Cardiff te kom kyk en ons dan raad te gee oor waar ons dinge moet aanpas,” het White gesê.

Henning het gesê hy help graag want dit is in die beste belang van die Verenigde Rugbykampioenskap dat Suid-Afrikaanse spanne op gelyke grondslag deelneem as dit kom by skeidsregterbeslissings.

Volgens Henning het hy die kampioenskap se organiseerders ingelig oor sy hulp aan die Bulls. Ierse skeidsregter John Lacey het dit ook gedoen want hy help die Stormers met hulle vrae oor skeidsregters.

Weens die Covid-19-pandemie kon wedstrydbeamptes nie voor die kampioenskap vergader oor hoe duikslae geblaas sou word nie of wat by lynstane en losgemale verwag word nie. Henning sê dit is deel van die groeipyne van ʼn nuwe toernooi.

Hy meen die Suid-Afrikaanse spanne moet ook gewoond raak aan verskillende aksente van skeidsregters en hoe hulle met spelers op die veld kommunikeer.

“In Suid-Afrika is die fokus daarop om die lynstane en losgemale te beskerm want dis waar die spanne tradisioneel sterk is. Dit is hulle grootste aanvalswapen. Maar in die noorde is dit nie die groot fokus nie want dis nie so ʼn groot aanvalswapen vir spanne hier nie. So die skeidsregters fokus nie soveel op daardie deel van die spel in die noorde nie. Dit maak die Suid-Afrikaanse spelers deurmekaar.”

Henning wys daarop dat skeidsregters in Suid-Afrika byvoorbeeld by die afbreekpunte sal sê: “Los die bal nou blou”. In Europa sal hulle onmiddellik ʼn span straf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper ·

Spelers ken die reëls.Die skeidsregter hoef nie te sê los die bal outjies hulle weet hulle moet.Hulle weet wat is ‘n gevaarlike duikslag hulle weet wat is ‘n losgemaal(ruck) hulle weet wat is ‘n dryfmaalbeweging en waarvoor jy gestraf kan word.Die suidelike halfronde skeidsregters moet die reëls ook so toepas want dit bly nog een stel reëls.

Anoniem ·

Tappe het my lewe so ‘n paar jaar verkort en ook my paadjie hiernamaals toe met dorings besaai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.