Bulls se diepte kan dit ʼn goeie Superseisoen maak

Jessie Kriel - Boksenter op heelagter vir die Bulls (Foto japantimes.co.jp)

Jessie Kriel – Boksenter op heelagter vir die Bulls (Foto japantimes.co.jp)

Diepte is noodsaaklik in die Superreeks, en as dit al is waarvan sukses afhang, behoort die Bulls ʼn suksesvolle reeks te hê.

Nollis Marais se span vir Saterdagaand (afskop 19:30) se baie belangrike kragmeting op Nuweland teen die Stormers sluit die Springbokslot Lood de Jager in. Dit sal sy eerste Superwedstryd vir die Bulls wees.

De Jager se insluiting laat Jason Jenkins, een van die land se heel voorste jong slotte, op die bank.

De Jager is een van vier nuwelinge in die Bullsgroep. Jacobie Adriaanse en Edgar Marutlulle het albei al vir Suid-Afrika se naasbestes gespeel en Ruaan Steenkamp is jong ʼn Tukkiestudent wat reeds 20 wedstryde vir die Blou Bulle gespeel het maar nog nie vir die Bulls nie.

Een van die ses Springbokke in die opdrafspan is Jesse Kriel, wat op heelagter bo Warrick Gelant verkies is. Gelant was kookwater toe hy in 2016 op heelagter vir die Bulls uitgedraf het voordat hy beseer is.

Dit is op heelagter wat Kriel sy naam gemaak het voordat hy vir die Bokke gekies is waar hy meestal senter en ook een keer vleuel gespeel het.

Kriel se skuif na heelagter beteken die senter-vennootskap van Burger Odendaal en Dries Swanepoel word vir die wedstryd behou.

Gelant is op die baie sterk bank gekies, saam met onder meer die Bokskrumskakel Piet van Zyl en Lizo Gqoboko wat op die jaareindtoer vir die Springbokke gespeel het maar nie kleure gekry het nie.

Die losvoorspeler (en soms slot) Jacques Potgieter wat, na hy by die Bulls Springbok geword en toe na Japan, die Waratahs en die Sharks uitgewyk het, is terug in die Blouspan. Die ander vier Springbokke is die kaptein Handré Pollard wat die Bulls die eerste keer in ʼn amptelike wedstryd sal aanvoer, die voorryman Trevor Nyakane wat glo baie fiks is en voortaan op vaskop sal spesialiseer, Jamba Ulengo en die skrumskakel Rudy Paige.

Die Springbokke Adriaan Strauss, Arno Botha en Jan Serfontein is nie oorweeg nie en Roelof Smit, wat voor sy eerste toets weens ʼn besering in ʼn Bokoefening moes onttrek, is nie vir Saterdag se wedstryd oorweeg nie.

Nyakane se 76 Superwedstryde is die meeste van die Bulls.

Bulls –

Jesse Kriel* (31, 10), Jamba Ulengo* (10, 25), Dries Swanepoel (7, 10), Burger Odendaal (18, 10), Travis Ismaiel (17, 30), Handré Pollard* (kapt., 25, 243), Rudy Paige* (34, 0), Hanro Liebenberg (8, 5), Jacques Potgieter* (56, 35), Nick de Jager (5, 5), RG Snyman**(12, 10), Lood de Jager* (40, 5), Trevor Nyakane* (70, 15), Jaco Visagie (8, 0), Pierre Schoeman (9, 0). Bank: Edgar Marutlulle (25, 20), Jacobie Adriaanse (26, 0), Lizo Gqoboka** (12, 0), Jason Jenkins (13, 5), Ruan Steenkamp (0, 0), Piet van Zyl* (68, 55), Tian Schoeman (22, 73), Warrick Gelant (4, 5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.