Bulls se groot kanonne terug teen Munster

(Foto: GB Jordaan)

Van die Bulls se groot kanonne is terug vir Saterdag se belangrike Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen Munster op Loftus Versfeld.

Willie le Roux, Canan Moodie, David Kriel, Kurt-Lee Arendse, Johan Goosen en Embrose Papier is terug in ʼn sterbelaaide agterlyn, terwyl die blitsige Sebastian de Klerk genoeg teen die Northampton Saints gedoen het om sy plek in die opdrafspan te verseker.

Elrigh Louw sal die tuisspan in die plek van die beseerde Marcell Coetzee aanvoer en sal die lostrio saam met Reinhardt Ludwig en Cameron Hanekom vorm.

Die Bulls het vroeër oor Hanekom se beskikbaarheid vir die wedstryd gesweet nadat die Europese rugbybase een van sy duikslae teen die Saints met ʼn vergrootglas dopgehou het.

Hanekom is in die 49ste minuut van die Pretorianers se Kampioenebeker-kwarteindstryd met ʼn geel kaart van die veld gestuur, maar daar is intussen bevestig dat sy verdedigingswerk nie bykomende straf verdien nie.

Vir Munster sal RG Snyman saam met kaptein Tadhg Beirne in die lynstane rank.

Die oudleerder van Afrikaans Hoër Seunskool gaan die afgelope paar jaar gebuk onder beserings en kon in vier jaar nog net 432 minute vir sy Ierse klub speel.

Hy het onder meer ʼn skouerbesering in die Springbokke se suksesvolle Wêreldbeker-veldtog in Frankryk opgedoen, terwyl ʼn virus hom onlangs ook vir ʼn wedstryd of twee langs die kantlyn gehou het.

Munster het vroeër bevestig dat Snyman binnekort in die kleure van Leinster te siene sal wees.

Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Bulls: Willie le Roux (heelagter), Sebastian de Klerk (regtervleuel), Canan Moodie (buitesenter), David Kriel (binnesenter), Kurt-Lee Arendse (linkervleuel), Johan Goosen (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Elrigh Louw (kaptein en agtsteman), Reinhardt Ludwig (flank), Cameron Hanekom (flank), JF van Heerden (slot), Ruan Vermaak (slot), Wilco Louw (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Akker van der Merwe, Simphiwe Matanzima, Mornay Smith, Janko Swanepoel, Mpilo Gumede, Zak Burger, Chris Smith en Devon Williams.

Munster: Simon Zebo (heelagter), Calvin Nash (regtervleuel), Antoine Frisch (buitesenter), Alex Nankivell (binnesenter), Shane Daly (linkervleuel), Jack Crowley (losskakel), Connor Murray (skrumskakel), Jack O’Donoghue (agtsteman), Alex Kendellen (flank), Peter O’ Mahony (flank), Tadhg Beirne (kaptein en slot), RG Snyman (slot), Stephen Archer (stut), Niall Scannell (haker) en Jeremy Loughman (stut). Plaasvervangers: Eoghan Clarke, Josh Wycherely, Oli Jager, Tom Ahern, Gavin Coombes, Craig Casey, Joey Carbery en John Hodnett.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.