Bulls se jong pak kry Stormers in knelgreep

Die ou manne uit die dae toe Noord-Transvaal hulle spel om voorlangse oorheersing gebou het, sou Saterdag trots gewees het op die inklimrugby van die jong en onbesonge pak van die Bulls.

Die Bulls het die opwindende maar nie altyd goeie wedstryd nie op Loftus met 33-23 teen die Stormers gewen en vyf drieë teenoor die Stormers se drie gedruk.

Die grondslag vir die oorwinning is deur die pak gelê waar die Bulls die afbreekpunte oorheers het, die Kapenaars met die eerste skrum geskok en daarna die eerste helfte grootliks beheer het.

Die Stormers het veral aanvanklik die een strafskop na die ander onder die druk afgestaan wat natuurlik die Bulls se gebiedsvoordeel ʼn hupstoot gegee het.

Die voorspelers het híérmee die agterlyn van die Stormers grootliks lamgelê deurdat Damian Willemse onder druk nie naastenby op sy beste was nie.

In- en afskoppe wat direk uit was, sy onvermoë om strafskoppe naby die hoekvlag uit te skop omdat hy met skoplengte gesukkel het, en vertwyfeling op die aanval het gewys dat hy nog ʼn paadjie het om te stap.

Hy het boonop, ná slegs twee uit 20 skoppe pale toe wat tot dusver in die reeks mis was, Saterdag in die een wedstryd drie uit ses keer nie die kol getref nie.

Teenoor hom het Handré Pollard se ervaring agter die goeie pak en die beter diens van sy skrumskakel Ivan van Zyl duidelik in sy opsies gewys en hy het ook met ʼn breekslag die Bulls se derde drie aangevoer.

Die Bulls het egter nie nét voorlangs gespeel nie en ʼn paar keer met balverspreiding die besoekers laat bontstaan.

Die vraag kan gevra word waarom die Stormers nie ook vroeër met hulle agterlyn gehardloop het nie.

Damian de Allende, wat grootliks ʼn goeie dag beleef het, het heeltemal te min kans gekry om sy make te maak – en Dillyn Leyds het eers hier teen die einde van ʼn los skop deur die Bulls hardloopkans gekry wat toe na ʼn drie gelei het.

♦  En dan ʼn spesiale woordjie oor die voormalige Bokkaptein Adriaan Strauss wat Saterdag Victor Matfield se SA rekord vir die meeste Superwedstryde oortref het toe hy in sy 149ste wedstryd gespeel het.

Hy het dit deeglik met drie drieë gevier, en veral heelwat daartoe bygedra dat die Bulls se skrumwerk stukke beter as tot dusver vanjaar was.

Puntemakers –

Bulle (19) 33: Drieë: Adriaan Strauss (3), Johnny Kotze, Jesse Kriel. Doelskoppe: Handré Pollard (4).
Stormers (18) 23: Drieë: Jan de Klerk, Damian de Allende, Siya Kolisi. Strafdoele: Damian Willemse (2), Doelskop: Willemse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

SjN ·

Die bulle het kommentator Nick Mallett met sy stelling voor die game verkeerd bewys, dit was die verskil, go bulle

John ·

Die Windjies kan bly wees dat ou anti bul vd westhuizen ook nog aan hul kant was,anders was die telling veel groter!! Hie hie. Al wat jy sien is die BLOU MASJIEN!!!

rollie ·

Kyk, die nulle wen so 1 uit elke 10 probeerslae teen die Stormers. Ek sou nou nie oor die maan spring van opgewondenheid nie as my span ‘n tuiswedstryd gewen het nie.

DHK ·

Die druiwe is behoorlik suur in die Kaap. En daar is niks vir die Stoomverloorders om hul ondersteuners oor die maan te laat spring nie…

Riaan ·

Nou wen die bulls weer die beker, hulle het mos nou 2 games gewen sover.
Baie snaaks nou is amal weer in Pta n bulls ondersteuner, verlede week was niemand.

Jaybee ·

Riaan, ek is nog al die jare ‘n groot Bull ondersteuner en is die eerste om te erken as my span swak gespeel het. Die punt is egter dat ‘n swak Bul span die Stomers kon klop, en dit sê baie van die Stomers. Ek erken dat die Bulle nog ‘n lang pad het voor hulle aan bekers kan dink, maar dit is darem lekker om weer ‘n slag te wen veral teen die Stomers.

Callie ·

Ou Rollie, jou ou Stormer spannetjie is swakker as swak bulle. Julle daar moet baie bekommerd wees. Kon nog nooit hond haaraf mak in Superreeks. Moet verskriklik voel om so te sukkel

Frans C ·

Die Bulle het verdien om te wen omdat hul hul kanse beter gebruik het en die nuwe skrumreël toegepas het om die Stormers te skok.Soos die reël tans lees is daar ‘n groot nadeel verbonde aan die ingooi van die bal by die skrum.
Die nuwe reêl vereis dat een van die voorry van die span wat die bal ingooi die bal moet haak.Dieselfde word nie vereis van die ander span nie,wat danmet ‘n agtmanskrum die ingooiende span se voorry kan ontwrig,omdat die onstabiel raak sodra een van die voorry sy voet oplig om die bal te haak.
Ek het reeds ‘n epos gestuur aan wêreldrugby, maar die het laat weet dat hul te besig is
om aandag aan die saak te gee.’n Mens moet dus nie te opgewonde raak oor ‘n span
se ooorwinning in die skrum nie,want dit sal altyd tans ‘n nadeel vir die ingooiende span wees,wat soos Saterdag bewys as ‘n teenvoeter die skrum laat val sodra die bal by die slotte of agsteman se voete kom.

Michael ·

S A spanne kan net in sa wen en tuis Glo my die sharks het dit gister reg gekry sal ook die laaste een wees ek hoop die water projek was n sukses gister wat weet julle manne?

Callie ·

Weet jy Frans c. Al wat moet gebeur is die bal moet reguit in die skrum ingegooi word. Dan moet albei en sal albei spanne haak. Hoekom alles moeilik maak as dit eenvoudig is en vroeer jare so GEWERK het

Frans C ·

Jy is reg, maar die reêl vereis dat een van die ingooiende span se voorry die bal moet haak.
Die ander span hoef nie dit te doen nie.Wat dus alhoemeer gebeur is dat sodra een van die
voorry van die ingooiende span sy voet oplig,dan raak die voorry onstabiel en kom die ander span met ‘n agtmanskrum om dit uit te buit.
Sodra beide spanne verplig word om die bal te haak sal dit verdwyn.Die ergste is dat as die ingooiende span dit nie doen nie,kry die ander span ‘n vryskop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.