Bulls se wedstrydwenvermoë beïndruk White

Die Bulls is derde op die VRK-punteleer. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls se vier drieë-oorwinning teen die Lions op Ellispark beteken dat hulle nou derde op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer is en ʼn plek in die uitspeelrondes is beslis binne hul bereik.

Die Pretorianers is tans net een punt agter die Glasgow Warriors in die tweede plek, terwyl net vier punte tussen hulle en voorloper, Leinster, is.

Jake White is ongetwyfeld beïndruk met sy span se vermoë om wedstryde te wen.

“Ek geniet die feit dat ons onder die voorste spanne op die punteleer tel, ek hou daarvan dat ons die Bulls-stempel op wedstryde afdruk en ek hou ook daarvan dat ons vier drieë kan druk selfs wanneer ons nie op ons beste is nie,” het die Pretorianers se direkteur van rugby gesê.

Volgens die Wêreldbeker-wenafrigter is die Bulls se lot nou in hul eie hande.

“Daar is steeds druk want ondersteuners wil hê dat ons goed moet doen, terwyl ander spanne hul bes doen om ons te klop.”

White meen egter dat dit veel makliker is om druk te hanteer wanneer jy suksesvol is as wanneer ʼn span met relegasieprobleme worstel.

Hy is ook opgewonde dat ʼn senior speler soos Wilco Louw ook weer binnekort sy terugkeer kan maak.

Die sterk voorspeler het die Bulls-skrum ʼn reusehupstoot gegee voordat ʼn skouerbesering hom tydelik weg van die aksie gehou het.

VRK-punteleer:

  1. Leinster: 39 punte ná tien wedstryde
  2. Glasgow Warriors: 36 punte ná tien wedstryde
  3. Bulls: 35 punte ná tien wedstryde
  4. Benetton: 32 punte ná tien wedstryde
  5. Edinburgh: 30 punte ná tien wedstrdye
  6. Stormers: 30 punte ná tien wedstryde
  7. Ospreys: 29 punte ná tien wedstryde
  8. Ulster: 29 punte ná tien wedstryde
  9. Munster: 29 punte ná tien wedstryde
  10. Connacht: 28 punte ná tien wedstryde
  11. Lions: 24 punte ná tien wedstryde
  12. Cardiff: 22 punte ná tien wedstryde
  13. Zebre: 13 punte ná tien wedstryde
  14. Scarlets: 12 punte ná tien wedstryde
  15. Dragons: 10 punte ná tien wedstryde
  16. Sharks: 10 punte ná tien wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Mooi Bulle, jul is tans bo van die SA spanne, wys die Stormers iets wat hul nie weet nie met die opkomende wedstryd, sterkte vorentoe.

Andries ·

Die Stormers gaan reeds daar na Loftus toe,wat beteken hulle is in die leeukuil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.