Bulls soen hul sussie, al weer

Jaco Visagie het die laaste drie van die wedstryd gedruk. Foto: Facebook.

In die 75ste minuut van vanoggend se Superrugbywedstryd tussen die Bulls en die Highlanders in Dunedin het die Pretorianers se Jaco Visagie deurgebars nadat die besoekers volgehoue druk op die tuisspan se doellyn toegepas het.

Handré Pollard – wat so te sê geen teken van vlugvoosheid getoon het nie – het die doelskop deur die pale gejaag.

Dit was die laaste keer dat enige span punte in die wedstryd kon aanteken. En toe die eindfluitjie uiteindelik lank ná die 80ste minuut geblaas het, was die telling 24 elk.

Dit is die tweede agtereenvolgende naweek wat die Bulls gelykop teen Nieu-Seelandse teenstanders speel. Hulle het verlede Vrydag met ’n telling van 22 elk teen die Blues van die veld gestap.

Maar as gelykopspeel met sussie-soen vergelyk word, hoef die Bulls-ondersteuners darem nie té veel die keer te gril nie. Dié was nogal ’n mooi sussie gewees – een wat waarskynlik in haar jonger dae die Mej. Tonteldoos-titel gedra het, of iets soortgelyk.

Dit was ’n hoë-oktaanstryd met altesaam sewe drieë wat teen absolute Blitzkrieg-snelheid gedruk was. Beide spanne se hanteerwerk het met tye baie indrukwekkend gelyk, terwyl die Suid-Afrikaners vir eens met net soveel ondernemingsgees en vryheid as hul Kiwi-teenstanders gespeel het.

Pas nadat Waisake Naholo vir die Highlanders gaan druk het nadat hy ’n steekskoppie skitterend opgevolg het, het die Bulls se Divan Rossouw basies die tuisspan in hul eie munt terugbetaal om self ’n skoppie op te raap.

Die rustydtelling was 19 – 14 in die Highlanders se guns.

’n Bobaas-skop deur Pollard het egter die bal aan die rol vir die Bulls in die tweede helfte gesit en hulle het uiteindelik dié helfte (puntegewys) gewen.

Natuurlik was daar ook drama aan die begin van die kragmeting toe ’n Bulls-drie – hoewel dit aanvanklik toegeken was – deur die televisie-skeidsregter geskrap is. Hy het egter korrek beslis dat daar vooraf ’n aanslaan was.

Die uitslag sorg dat die Bulls 36 punt ná 15 wedstryde het en tweede op die Suid-Afrikaanse punteleer lê. Die Jaguares, Stormers, Lions en Sharks het egter almal een minder wedstryd gespeel.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Divan Rossouw, Jason Jenkins, Jaco Visagie. Doelskoppe: Handré Pollard (3). Strafskop: Pollard.

Highlanders: Drieë: Josh McKay (2). Waisake Naholo (2). Doelskoppe: Josh Ioane (2)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

7 Kommentare

Swartwolf ·

Netjies Bulle om van agter te kom halftyd en gelykop te eindig teen moeilik opposisie spreek boekdele. Dis die karakter wat ons spanne moet wys.

Henry ·

Jammer dat die Bulle die twee slotte verloor. Om nie eers te praat van al die ander nie.
Sal volgende jaar alweer van voor af moet begin.
Nietemin. Baie goeie buitelandse toer.

Andre ·

Ek het geen problem met `n geleikop telling nie, dit is nogsteeds beter as verloor, veral teen `n NZ span.

Ai ·

Stem om teen n span soos die highanders op hul agtergrond gelyk op te speel is baie beter as n verloor,bietjie geluk en ons kon wen…Trots en naam hoog gehou en nie naam weggegooi soos die hensoppers proteas nie..Dankie Bulle!

Frans C ·

Beide spanne het desperaat probeer om die wedstryd te wen en het elkeen ‘n kans deur hul vingers laat glip.Waarom is Libbok nie gespel nie,sy spoed en flinke voetwerk kon die een vir die Bulle gewen het,
Dit is duidelik dat die Highlanders hul heelagter gemis het,alhoewel sy plaasvervanger
goed gespeel het.Hul All Black skrumskakel het te veel op sy eie probeer en ek glo nie hy is nog steeds die All Blacks se beste op die stadium nie.

Lol ·

Met die Lions en Bulls wat goeie resultate teen NZ spanne behaal begin ek meer optimisties raak oor die wereldbeker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.